Prince (16) het op Woensdag 26 Junie in Los Angeles in die hof getuig nadat sy familie die konsertpromotor AEG Live gedagvaar het vir Michael se onregmatige dood. Hy het vir die lede van die jurie gesê die oorlede popkoning was oortuig sy This Is It-konsertreeks, waarvoor hy 50 optredes in die O2 Arena in Londen sou doen, sou sy dood veroorsaak. ’n Bron het aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê die tiener het vertel sy pa het gehuil nadat hy met AEG se base oor die foon gepraat het en gesê: “Hulle gaan my doodmaak . . . . hulle gaan my doodmaak.” Hy het ook getuig Michael, wat in 2009 aan ’n oordosis propofol dood is, was gespanne oor sy toerdatums en het gevoel hy het nog tyd nodig om te repeteer. Die Jackson-familie dagvaar AEG Live daarvoor dat hulle dr. Conrad Murray, wat aan manslag skuldig bevind is vir sy rol by Michael se dood, aangestel het sonder om hom te ondersoek.   Prince se suster, Paris (15), het voor die begin van die hofsaak ’n verklaring afgelê, maar is glo ná haar onlangse selfdoodpoging ingelig sy hoef nie in die hof te getuig nie. Perry Sanders, wat Michael se ma, Katherine Jackson (83), verteenwoordig, het voorheen gesê: “Niemand sal Paris dwing om iets te doen nie. Ek was albei dae van haar verklaring by haar. Sy was selfversekerd. Die verklaring het goed afgeloop. Paris is ’n goeie, sterk mens.”