'n Priester is raakgeskiet nadat hy aangehou bid het toe tien rowers Vrydagaand by 'n kerk in Alexandra, Johannesburg, ingebars het en gemeentelede begin beroof het.

Die gemeente het Vrydagaand vir gebede bymekaargekom toe die rowers die kerk binnestorm, het polisiewoordvoerder kaptein Kay Makhubele Saterdag gesê.

Die rowers het die gemeentelede beveel om op die grond te lê, maar volgens Kay het die priester net aanhou bid.

"Die rowers het op hom losgebrand, maar net sy broek raakgeskiet. Hy het onverpoos aanhou bid," het hy gesê. Die rampokkers is vort met gemeentelede se ringe, horlosies en handsakke.

Tot dusver is niemand aangekeer nie en die polisie doen 'n beroep op die gemeenskap om met inligting na vore te kom.

"Ons sal voortgaan om te soek na die verdagtes," het Kay bygevoeg.

Intussen is 'n 32-jarige man in Alexandra Vrydag aangekeer weens 'n beweerde verkragting van 'n 19-jarige meisie, het Kay ook genoem. Die man is gearresteer en aangekla van aanranding en verkragting.

Bron: News24