Dié musiekblyspel met sy intelligente humor en karakters by wie amper almal kon aanklank vind, kry nou ’n opvolg.

Die lokprent vir Pitch Perfect 2 is pas uitgereik en laat ’n bietjie die aap uit die mou oor wat die dinamiese vroue van die Barden Bellas nou aanvang.

Fat Amy (Rebel Wilson) beleef ’n ongemaklike oomblik by ’n konsert wat deur niemand minder nie as pres. Barack Obama bygewoon word. Dit lei tot die onmiddellike skorsing van die Barden Bellas uit ’n groot a cappella-kompetisie.

Maar pleks dat hulle in sak en as gaan sit, span die groep kragte saam en besluit sommer net daar om aan die wêreldwedstryd deel te neem. Maar gaan hulle suksesvol wees teen sterk mededinging van groepe uit onder meer Duitsland?

Fliekvlooie kan in Mei uitsien na al dié mannewales.