Rholene Strydom van Pretoria het ’n lang week agter die rug gehad. Die ma van twee het net reggemaak vir ’n rustige aandjie en die nuutste episode van haar gunstelingreeks, Supernatural, toe sy ’n verwarrende WhatsApp-boodskap ontvang.

Dit het gelui: “Ek het net gedink ek moet jou sê: Jou kêrel het my swanger gemaak.”

Die boodskap was van ’n nommer wat sy nie herken het nie. Rholene (31), wat gelukkig getroud is met die sjef Johnny Berberg, het geweet die boodskap is beslis nie vir haar bedoel nie.

“Maar ek was keelvol. Toe besluit ek om saam te speel.” Toe stuur sy terug: “Ag nee! Watter een?” Die onbekende vrou het hierop geantwoord: “Wat bedoel jy watter kêrel? Dis ernstig, jou feeks!”

Dit blyk die rondloperkêrel ter sprake is ene Sam, en Rholene besluit toe om ’n paar memes van al haar geliefkoosde Sams bymekaar te kry, insluitend Samwise Gamgee van The Lord of the Rings, Samwell Tarly van Game of Thrones en, haar gunsteling, Samuel Winchester van Supernatural.

Lees ook: Dié WhatsApp-truuk kan jou baie ongemaklike oomblikke spaar

’n Bisarre gesprek het gevolg, tot die geïrriteerde vrou eindelik geskryf het: “Ek behoort te weet jy is mal as jy by ’n ou soos Sam bly. Ek meen, hy het my nie eens na lekker kosplekke gevat nie.”

Volgens die tye op die boodskappe het die twee sowat ’n halfuur lank oor een weer boodskappe gestuur – tot die vrou eindelik besef het sy misgis haar dalk. “Ek dink ek het die verkeerde nommer,” het sy geskryf met ’n geskokte emoticon daarby.

“Ek’s jammer.” Hierop het Rholene geantwoord: “Wel, beslis nie so jammer soos Sam gaan wees nie. Luister, dit was lekker pret, maar jy moet gaan slaap, want nege maande van nou af gaan jy nooit weer slaap nie.”

[post-slider]

Rholene het skermfoto’s van die boodskappe op Facebook gedeel. Dis al amper 50 000 keer gedeel. “Ek het dit glad nie verwag nie,” het Rholene agterna aan Huisgenoot gesê. “Maar so baie mense het geskryf dit het hul dag gemaak. Dis wonderlik.”

Die boodskappe was vir sommige so snaaks, dat sommige begin wonder het of dit werklik gebeur het. Maar Rholene, ’n sosialemediakenner by Elite Online Solutions, hou vol dis geen grap.

Baie van haar vriende het ook nie geglo die boodskappe is eg nie. “Sommige van hulle het hulself vir koffie genooi om die boodskappe self te sien.”

Sedert Rholene die skermfoto’s Saterdag gedeel het, het sy al meer as 1 000 vriendskapsversoeke ontvang. “Daar was ’n paar vreemde siele,” sê sy droogweg, “maar ’n paar was heel gaaf en ek het hulle as vriende aanvaar. En nou het ek nuwe vriende uit alle kringe,” het sy geskerts.

Rholene woon in Pretoria saam met haar man, twee seuns van onderskeidelik ses en sewe jaar, twee honde en twee katte. Sy sê sy voel nie jammer vir die swanger vreemdeling wat haar sosialemedia-roem besorg het nie.

“Aan die begin het ek haar ’n bietjie jammer gekry, maar toe besef ek sy het gedink sy stuur ’n WhatsApp aan die meisie van ’n man by wie sy geslaap het. Sy het dus geweet hy was in ’n verhouding. So nee, ek kry haar nie jammer nie.”

Rholene sê daar was opmerkings oor ’n sekere Sam wat dalk die skurk in die verhaal is, maar dit was vinnig uitgevee. “Dit sou lekker wees om hom op te spoor. Ek bedoel, hy is nie werklik in my kattebak nie.”

Die les uit hierdie verhaal? “Moenie met ’n moeë ma mors nie.”