Sean Smith (16) het Maandag oor sy hele liggaam brandwonde opgedoen nadat hy iemand met karprobleme probeer help het. Hy het petrol gebruik om die olie van sy hande af te spoel. Dit is nog nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie.

Sean het drie dae lank in die Unitas-hospitaal in Centurion gewag om ’n bed te kry in ’n brandeenheid in ’n staatshospitaal, maar die hospitale het laat weet hulle het nie plek nie. Sy ma, Mé-Lissa, was die week erg getraumatiseer deur die gebeure en boonop was sy onseker oor of haar kind sou oorleef. Sy kan ook nie die privaat hospitaal se koste van R700 000 betaal nie.

“As hierdie kind nie vinnig in ? teater kom nie, gaan hy doodgaan. Sy wonde is besmet en dit gaan nie goed met hom nie,” het Amoré Sameera Jooste, ? familievriend, gister aan Huisgenoot gesê.

Unitas-hospitaal het gisteraand bekendgemaak hulle sal die onkoste vir Sean se behandeling dek.

Volgens Robert Jordaan, algemene bestuurder van die Unitas-hospitaal, is hulle in hierdie stadium meer besorg oor Sean se welstand. Hulle wil seker maak hy is stabiel genoeg voor hy na ’n staatshospitaal oorgeplaas word.

“Ons sal hom elke dag evalueer en die onkostes dra tot hy ’n regverdige kans op oorlewing het,” het Robert gesê.

Amoré het gesê Sean is uit die teater en weer in die waakeenheid. “Hulle het vandag van die dooie weefsel verwyder.”

“Volgens die dokters het hy derdegraadse brandwonde aan sy hande, nek, ken en rug opgedoen. Daar is ook verskeie wonde aan sy bors en arms.”

Hy het ook derdegraadse brandwonde in sy gesig, maar sy ma sê sy oë is gelukkig nie beskadig nie.