Sorgeloos het hy agter op ’n bakkie gery wat ’n vriend bestuur het. Hulle wou ’n padteken wat langs die pad gelê het, munisipaliteit toe vat, maar skielik het ’n sterk wind hom vanuit die niet geskep en van die bakkie afgegooi.

Richard van der Nest (16) van Bultfontein in Pretoria het op 9 Junie so hard geval, hy het sy arm op twee plekke gebreek en sy skedel gekraak. Die breinbeserings wat hy opgedoen het, was so ernstig, dokters moes ’n deel van sy linkerskedel verwyder om plek te maak vir sy brein wat swel.

bakkie binne 2

In die dae ná die tragiese ongeluk is hy drie keer breindood verklaar, maar die familie het geweier om die masjiene af te skakel en hy het aanhou baklei. “Hulle het ons geroep om te kom groet,” vertel sy hartseer ma, Lee-Ann van der Nest. “Maar God het sy eie tyd.”

Dit was Woensdag die 154ste dag wat Richard in ’n koma is en steeds kan dokters nie vir sy familie ’n aanduiding gee wanneer hy wakker sal word nie. “Hulle sê ons moet net op ons knieë bly,” sê Lee-Ann.

bakkie Binne

Vroeg in Augustus is Richard na die Lynmed rehabilitasie-kliniek oorgeplaas waar hy nou versorg word. “Soms lyk dit of hy homself wil regop druk om regop te sit en sy oë is vir rukke oop,” vertel Lee-Ann. “Dit is baie swaar om hom so te sien.”

Hulle het intussen die deel van sy skedel wat verwyder is, tussen die vellagies op sy maag ingeplant sodat die been nie doodgaan nie en dit teruggeplant kan word.

Op 21 Oktober het die personeel van Lynmed besluit om Richard se 16de verjaardag te vier deur sy kamer te versier aangesien hy al sedert Januarie na dié mylpaal uitsien.

Sy suster, Jo-Ann van der Nest, vertel hy wou so graag ’n groot partytjie hê en op sy motorfiets ry, en al was dit nie presies wat hy in gedagte gehad het nie, kon die familie darem saam wees. “Nou sal hy maar moet wag tot hy eendag wakker is om al sy verjaardagbriefies te lees."

[caption id="attachment_143849" align="alignnone" width="600"]Richard voor die ongeluk plaasgevind het. Foto: Facebook Richard voor die ongeluk plaasgevind het. Foto: Facebook[/caption]

“Richard was ’n liefdevolle mens en met sy spontane persoonlikheid het hy vinnig vriende gemaak. Hy het almal altyd aanvaar en het altyd probeer help waar hy kon. Hy kon vir seker ’n geheim hou, hy wou altyd net die vrede bewaar en het deur dik en dun by jou gestaan.

“Hy was ’n besige seun en kon nie 2 minute lank stilsit nie. Hy was altyd baie aktief en het van die buitelewe gehou, visvang en motorfietsry. Hy het vir die eerste keer motorfiets gery toe hy maar drie jaar oud was en ek onthou hoe hy op 14-jarige ouderdom ’n stoel moes nader trek om op ’n motorfiets te kom. Maar ry, het hy gery.

“Hy was vir niks bang nie. Ons mis hom ongelooflik baie. Hy moet net wakker word.”