Die feite is in die sosiale media verdraai. Ons kon die onderskeie partye bymekaarkry om hul weergawe van die gebeure weer te gee, het Herman van Zyl van die skool se beheerliggaam skriftelik in ’n verklaring gereageer.

Dit volg nadat ’n vrou in die sosiale media beweer het haar suster het ’n angswekkende ervaring by ’n skool gehad. “Haar kinderoppasser het gestap om haar gr. R-seun by ’n goeie skool in ’n oulike omgewing in Pretoria te gaan haal,” het sy geskryf.

Sy het bygevoeg hulle is genader deur ’n aangename vrou wat sy vantevore by die skool opgelet het. “Sy het gevra of sy belangstel in ’n pos wat beter betaal. Toe die oppasser dit van die hand wys, het sy vir haar ’n nommer gegee en gevra sy moet haar bel sou sy van plan verander.”

Die vrou het verder beweer dieselfde middag was daar ’n poging om twee kinders by die Laerskool Elarduspark te ontvoer, “’n paar minute van waar die voorval plaasgevind het”.

Ná die inskrywing het ene Betsie Strydom op Facebook geskryf die betrokke motor is dié van haar en haar man. “Ons het gistermiddag by ’n besige drierigtingstraathoek verby ’n stootwaentjie gery met ’n klein dogtertjie in sonder enige toesig. Ek het vier kinders en het my man gevra om stil te hou sodat ons kon uitvind waar die kind se ma of pa was. Daar was niemand in sig nie.”

Volgens die inskrywing het omstanders gesê ’n huishulp wat na die kind moes kyk, het gou kougom gaan koop. Toe sy ’n rukkie later teruggekeer, het sy volgens Betsie se inskrywing geweier om haar optrede te verduidelik of haar werkgewer se selfoonnommer te verskaf.

Herman het gesê die onderskeie partye is saam na die polisiekantoor om verklarings af te lê.

“Dit is duidelik die mense wie se registrasienommer per SMS gekommunikeer is, wou in belang van die baba optree en wou geensins die baba ontvoer nie,” het hy in dieverklaring gesê.

“Ons skool staan by ons standpunt dat die veiligheid van ons kinders ononderhandelbaar is en dat ons alles in ons vermoë sal doen om dit te verseker.”

Hy het voorts ’n beroep op ouers gedoen om sy verklaring te gebruik om die saak in die sosiale media reg te stel.