Ao. Ben Strydom (47) is Donderdagoggend in Sinoville, Pretoria, geskiet terwyl hy ’n 64-jarige man vir bedrog in hegtenis probeer neem het, het kapt. Augustinah Selepe gesê.

Toe die man die polisie sien, het hy deur ’n ander deur van die gebou probeer ontsnap, maar ao. Strydom het hom vasgetrek. Die man het ’n vuurwapen uitgehaal en hom geskiet voor hy gevlug het. ’n Jaagtog het toe begin. Die man het op Moloto-weg met sy motor stilgehou en homself geskiet en gewond. Hy is na die hospitaal geneem waar hy onder polisiebewaking is.

Die man se vrou is vir bedrog in hegtenis geneem, het kapt. Selepe gesê. Beeld het Vrydag berig die man en sy vrou het na bewering toeriste van geld beroof. Hulle het blykbaar vakansies vals geadverteer en klante dan gebel en vertel hul vakansie is gekanselleer en dat hulle hul geld terugbetaal sou word as hulle hul bankbesonderhede verskaf het.

Pleks van die geld terugbetaal, het hulle daarmee verdwyn. Beeld berig ook die paartjie het ook nie die radio-advertensies vir die vermeende vakansies betaal nie.

’n Polisieman van Upington, wat ook amper onder die paartjie se swendelary deurgeloop het, het hulle via kontakte in die polisie en die bank opgespoor. Ao. Strydom was voorheen ’n media-woordvoerder in Sinoville en het in Mei ’n skadevergoedingseis van R80 000 teen die minister van polisie gewen vir onregmatige inhegtenisneming vir die moord van ’n verdagte. - Sapa