“Ek weier om haar dood te laat verklaar voor iets van haar nie gevind word nie,” sê Franci, ’n pensioentrekker.

Franci sukkel nog om daarin te berus dat haar dogter, Madelein Murray (60), weg is.

Op 9 November het meer as 150 mm reën oor dele van Gauteng groot skade en oorstromings veroorsaak.

Madelein, wat ’n skrootwerf besit het, het vermis geraak ná hewige oorstromings in Pretoria.

Sy en haar seun Hanco (20) het laat die aand oor ’n laagwaterbrug oor die Apiesrivier gery toe ’n fratsvloed hul motor meesleur.

Hanco kon veiligheid bereik, maar Madelein is meegesleur en ten spyte van ’n grootskaalse soektog langs die Apiesrivier, is sy steeds nie opgespoor nie.

Franci, wat in die noorde van Pretoria woon, sê sy wil elke dag langs die rivier na haar kind gaan soek.

“My ryding is onklaar. As iemand bereid is om my elke dag rivier toe te vat, sal ek aanhou soek.”

Franci sê sy het in ’n depressie verval vandat haar kind vermis geraak het.

“Ek oorweeg dit al om my eie lewe te neem,” het sy huilend oor die foon aan Huisgenoot gesê.

Sy bel elke week die polisie om te hoor of daar al nuus is, maar vergeefs.

“Ek sal nooit berus en aanvaar dat sy dood is nie. Ek gaan deur hel.”

Die reën en oorstromings het talle dakloos gelaat en sowat ses mense se lewe geëis.