Die Tshwane-munisipaliteit se water-en-sanitasie-afdeling se onderbrekings begin van 06:00 af. Lindela Mashego, woordvoerder van die munisipaliteit, sê gebiede sal steeds ná 06:00 water hê, maar met die verloop van twee tot drie ure sal dit al minder word.

Lindela sê ’n staalpyp van 1,2m in omtrek moet vervang word. Die munisipaliteit doen ’n beroep op mense om die nodige reëlings te tref.

“Sodra die pype geïnstalleer is, sal die gemeenskap minder uitdagings en watertekorte ervaar,” sê Lindela verder.

Hy sê die projek sal altesaam sowat R12,7 miljoen beloop en ná voltooiing sal die gebiede ’n betroubare infrastruktuur hê.

Werk het reeds die afgelope paar dae afgeskop met uitgrawings wat aangebring is.

Lindela sê die stad vra om verskoning vir enige ongerief wat inwoners mag ondervind.

Die woongebiede wat deur die instandhoudingswerk geraak word, is: La Montagne, Die Wilgers, Murrayfield, Mamelodi, Garsfontein, Ashlea Gardens, Samcor Park, Silverton, Silvertondale, Villieria, Jan Niemand Park, Waltloo, East Lynne, Rietfontein, Val-de-Grace, Kilnerpark, Meyerspark, Equestria, Lynnwood, Lynnwood Glen, Lynnwood Ridge, Lynnwood Park, Faerie Glen, CSIR, Waverley, Eersterust, Queenswood, Brummeria, Constantiapark, Newlands, Ekklesia, Waterkloof Glen, Moreleta Park, Alphen Park en Menlyn.