’n Motorwag, wat Hatfield se domste misdadiger gedoop is, is op heterdaad betrap in die voertuig waarby hy ingebreek het, het die polisie gesê.

Dit was nadat die eienaar van die voertuig die verdagte Sondag in sy voertuig toegesluit het.

Kapt. Colette Weilbach sê die 22-jarige motoris het sy voertuig in Burnettstraat, Hatfield, parkeer. Omdat die bestuurder gesukkel het om sy motor te sluit, het hy dit ongesluit gelaat terwyl hy vir 10 minute by ’n winkel ingedraf het.

Met sy terugkeer het hy ’n onbekende man in sy motor gekry wat glo besig was om te kyk wat hy kan steel, sê Colette.

“Die motoris het koelkop gebly en die afstandbeheerder gebruik om die verdagte in die voertuig toe te sluit.”

Die polisie van Brooklyn het op die toneel aangekom en die 33-jarige verdagte in hegtenis geneem.

Niks is uit die motor gesteel nie. Die man het onlangs in die gemeenskapshof in Hatfield verskyn.

Bron: News24