Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die metropolisie, sê hulle verwag ‘n “kalm optog sonder voorvalle”, maar dat die metropolisie langs die roete ontplooi is om die situasie dop te hou.

Mahamba sê die optoggangers het reeds Donderdagoggend vanaf nege uur by die ou Putco-busstasie in Marabastad begin opdaag. Hy verwag dat “sowat tussen 500 en ‘n 1 000” mense aan die optog gaan deelneem.    

Mpho Tladinyane, streekssekretaris van Samwu, sê hulle sal vanaf die Putco-busstasie na die Tshwane Huis op die hoek van Lillian Ngoyi- en Madibastraat beweeg waar hulle teen ongeveer middagete sal opdaag.

Hier sal ‘n beswaarskrif aan die stadsraad oorhandig word waarna die groep waarskynlik uitmekaar sal gaan.

Tladinyane sê Samwu is ontevrede oor die werksomstandighede van die munisipale werkers by die Tshwane Stadsraad.

“Werkers is blootgestel aan ‘n werkgewer wat die werksvoorwaardes op ‘n daaglikse basis verander terwyl ander aan onveilige werksomstandighede blootgestel is.”

Hy het die publiek gewaarsku om nie vandag die lisensie-kantore te besoek nie, aangesien dit gesluit is. 

Die optoggangers volg hierdie roete:

  • Vanaf die Putco-busstasie af in Strubenstraat.
  • Links in Kgosi Mampuru.
  • Regs in Sophie de Bruyn.
  • Links in Madiba tot by die Tshwane Huis 
Bykomende bron: JacarandaFM