Prince se dood was weens ’n onopsetlike oordosis van die sterk pynstiller Fentanyl, luidens die musiek-ikoon se amptelike lykskouingsverslag.

Beamptes van die kantoor van die Middeweste se mediese ondersoeker het die verslag bekendgemaak ure nadat ’n bron in wetstoepassing aan Associated Press gesê het Prince is aan ’n oordosis opioïede dood.

Die amptelike siening is dat die musieklegende se dood “per ongeluk” was en dat die Fentanyl in sy gestel “self toegedien” is.

Prince se gewig word in die verslag as net 50,8 kg aangedui.

Die toksikologie-uitslag rakende die sanger se dood is nog nie uitgereik nie en Minnesota se wetgewing vereis dit nie. As sodanig is dit nog onbekend of Fentanyl die enigste middel was wat met die sanger se dood op 21 April vanjaar in sy gestel was.

Lees ook: Nuwe inligting oor die tyd kort voor Prince se dood kom aan die lig

Fentanyl is ’n pynstiller wat 50 tot 100 keer sterker as morfien is, volgens mediese kenners. Daar word vermoed die superster het die middel gebruik om hom ’n pynlike heuptoestand te help hanteer.

Die newe-effekte van die opioïed is onder meer lomerigheid, lighoofdigheid, moegheid en moeite om asem te haal en te urineer.

Ná Prince se dood by sy woonkompleks Paisley Park naby Minneapolis het die polisie op die landgoed toegesak. ’n Bron in wetstoepassing het toe aan CBS News gesê voorskrifmiddels is in Prince se besit en by sy huis gevind.

Lees ook: Bekende popster word as vermis aangemeld

Bronne het voorheen beweer die sanger het ’n probleem met die pynstiller Percocet gehad sedert hy in 2010 ’n heupvervanging ondergaan het.

Prince se eertydse verloofde, Sheila E., het tydens ’n onderhoud met Entertainment Tonight kort ná sy dood haar hart oopgemaak oor sy heupprobleme.

“Ek bedoel, jy dink oor al die jare dat hy van daardie platforms afgespring het,” het die sangeres gesê. “Dit was nie laag nie – dit was baie, baie hoog – en om daarvan af te spring . . . (en) hy het daardie hakskoene aangehad. Ons het ’n jaar lank getoer (en) vir hom om daarvan af te spring – net ’n hele jaar sou sy knieë opgemors het . . . Hy het heeltyd pyn gehad, maar hy was ’n uitvoerende kunstenaar.”

© Cover Media

Lees ook op Huisgenoot.com:

Vermiste Japannese seuntjie wat as straf langs pad afgelaai is, gevind

‘Ek is glad nie bang nie, tannie’: Jong kankerlyer staak behandeling en stel vertroue in geloof

Is hierdie dalk Bobby se grootste aanhanger?

Jy sal nie glo hoekom kannetjie sy pa by die polisie aangekla het nie!

Wanhopige ma se geskenk vir haar siek kind gaan jou hart breek