Nadat die ANC-koukus Dinsdag gestem het téén die EFF se mosie wat die Grondwet wil wysig om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het president Jacob Zuma Vrydagmiddag in die teenoorgestelde rigting gemik.

[caption id="attachment_158814" align="aligncenter" width="602"]President Jacob Zuma (Foto: Gallo Images/Reuters) President Jacob Zuma (Foto: Gallo Images/Reuters)[/caption]

Die president het die Raad van Tradisionele Leiers toegespreek en gesê "radikale maatskaplik-ekonomiese transformasie" is nodig.

Zuma het gesê ’n "pre-koloniale oudit" moet geneem word om grondbesit, grondgebruik en ander patrone te bepaal. "Sodra dit afgehandel is, moet ’n enkele wet geskep word wat die kwessie van grondhervorming sonder vergoeding aanroer.

"Die nodige grondwetlike wysigings moet dan gemaak word om uiting hieraan te gee," het hy Vrydag gesê.

Die feit dat die ANC-koukus Dinsdag in een rigting stem, maar Zuma teen Vrydag-middag stellings maak wat op ’n heel ander posisie dui, spreek van die verdeling binne die ANC, sê die politieke ontleder dr. Somadoda Fikeni.

"Zuma is op pad uit en besef dit. Hy is ook inkonsekwent en maak daarom populistiese stellings soos dié."

Die ANC het ook vroeër die week in ’n verklaring gesê die party is gekant teen die idee dat grondhervorming sonder vergoeding moet plaasvind.

"Die ANC het nie baie hulpbronne om grondhervorming mee te laat gebeur nie," sê die politieke ontleder Theo Venter. Hy verduidelik die 2017/2018-begroting sit betreklik min uit vir grondhervorming en dat die ANC besef hy het min bewegingsruimte.

"Zuma se stellings vandag kon ’n versugting aan ander partye wees dat hy hulp nodig het om grondhervorming te laat gebeur." Zuma het juis gesê swart partye moet oor die grondkwessie herenig.

"Die EFF het egter baie duidelike voorwaardes vir met die ANC saamwerk," sê Theo. "Zuma moet in die pad gesteek word en grond moet sonder vergoeding hervorm word." Theo sê Zuma sal nie sommer hiertoe instem nie.

Die DA dring aan die ander kant weer daarop aan dat hervorming geleidelik en op ’n produktiewe manier moet gebeur, waarmee die ANC ook nie sal saamstem nie, sê Theo.

Hoewel Zuma se opmerkings Vrydag ook 'n poging kan wees om sy gewildheid ’n hupstoot te gee, moet dit nie as niks afgemaak word nie.

"Dit dui daarop dat Zuma besef hy is in ’n hoek gedruk."