Pres. Jacob Zuma is besig om die ANC sigbare en bewysbare skade aan te doen, skryf Pieter du Toit.

[caption id="attachment_120243" align="alignnone" width="600"]Pres. Zuma beantwoord vroeër die jaar vrae in die parlement. Foto: Flickr, GCIS. Pres. Zuma beantwoord vroeër die jaar vrae in die parlement. Foto: Flickr, GCIS.[/caption]

In die verlede het die DA se aanvanklike vordering teen hierdie tyd al soos mis voor die son verdwyn, maar vanjaar is anders. Wees gewaarsku, daar is nog baie stemme wat uitstaande is, maar hierdie is wat ons tot dusver sien:

? Die DA is gerieflik voor in die Nelson Mandelabaai-metroraad (Port Elizabeth) en die ANC stuur kennelik op ’n gevoelige nederlaag af;

? Die stryd in Johannesburg is kop aan kop. Die DA was lank voor, maar die ANC het gelyk getrek toe van die tradisioneel swart gebiede se stemme begin inkom; en

? In die hoofstad het die DA en ANC lank presies ewe veel steun gehad. Plekke wat onder geweld deurgeloop het omdat mense ongelukkig was met die ANC (soos Atteridgeville) moet nog getel word.

DUS: Waar die DA gewoonlik teen hierdie tyd drasties begin terugsak het, is hy so laat in die spel steeds stewig in die prentjie. Die twee grootste partye se onderskeie vertonings in Johannesburg en Pretoria is amper ongekend.

Lees ook: Verkiesingsuitslae: Kyk waar maak wegblystem ANC seer

Die ANC gaan heel waarskynlik sterker staan namate ons nader aan die einde van die tellery beweeg. Die verskil is: Hierdie keer het die DA se steun beduidend gestyg.

Vandag was beslis ’n geskiedkundige dag. Ons het al ’n hele paar keer die afgelope paar verkiesings ’n opflikkering van hoop gesien, maar vanjaar is dalk net die jaar waarin ons demokrasie werklik wasdom bereik, waar ’n dominante party gestraf word omdat hy kiesers as vanselfsprekend aanvaar.

Lees ook: Verkiesing 2016: Wat die uitslae sover voorspel

EN DIE EFF? Julius Malema is vanaand ’n teleurgestelde man, maar dit wys net ons kiesers val dalk nie meer so maklik vir populisme nie.

Die vraag is nou: Kan die ANC die interne agteruitgang keer? En wat gaan hy met Zuma doen? Volg Huisgenoot op Facebook en Twitter (@Huisgenoot) vanaand – ons gaan die belangrikste ontwikkelings daar deurgee.

Besoek News24, Netwerk24 of die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se webtuistes vir uitslae soos dit bekendgemaak word.

** Pieter du Toit het oor elke verkiesing sedert 2004 vir Media24 verslag gedoen.