Dít was Vrydagaand deel van pres. Jacob Zuma se boodskap aan Suid-Afrikaners toe hy die land in ’n onverwagse regstreekse televisie-aankondiging toegespreek oor die konstitusionele hof se bevinding oor die veiligheidsopgradering by sy Nkandla-tuiste.

Zuma het sy toespraak begin deur te verwys na die Suid-Afrikaanse grondwet wat 20 jaar gelede deur Nelson Mandela onderteken is.

“10 Desember 1996 het Nelson Mandela die Grondwet by Sharpeville onderteken.”

Lees ook: ‘Beslissing wys Zuma is g’n waardige leier’

Die grondwet is daarop gemik om ’n nasie te bou wat op demokratiese waardes gebaseer is.

Zuma het spesifiek verwys na die magte van die Artikel 9-instansies, soos onder meer die openbare beskermer, die menseregtekommissie, die ouditeur-generaal, die kommissie vir die beskerming en bevordering van kulturele en religieuse gemeenskappe en die kantoor vir geslagsgelykheid.

Hy het ook gesê die Grondwet is baie belangrik in die vestiging van ’n demokratiese parlement.

“Ons het ’n onafhanklike regstelsel wat ’n betroubare finale arbiter in alle dispute in die gemeenskap is.

“Gister (Donderdag) het die konstitusionele hof in hierdie belangrike rol ’n uitspraak gelewer oor veiligheidsopgraderings by my privaat-woning by Nkandla.

“Die uitspraak moet ons land trots maak op ons Grondwet. Dit is ’n grensverskuiwende uitspraak oor die magte van die openbare beskermer.

“Ek bedank die hof vir die duidelikheid wat verskaf is, ook oor ander Artikel 9-instansies.

“Ses aanbouings moet reggestel word. Die Nasionale Tesourie bepaal die redelike verdeling van die koste van elke item wat deur die president betaal moet word. Ek respekteer die uitspraak.

“Ek het deurlopend volgehou dat ek van hierdie uitgawes sou betaal sodra dit deur die regte owerheid bepaal is.

Lees ook: Nkandla: Konstitusionele hof moet sê of Zuma vervolg kan word – James Selfe

“Dit was nooit my bedoeling om nie aan die remediërende aksie te voldoen nie.

“Ek het nooit wetend of doelbewus die Grondwet oortree nie. Ek het nie oneerlik opgetree nie.”

Zuma het die blaam vir Nkandla-uitgawes na die departement van openbare werke verskuif.

“Ek het geen persoonlike kennis van die onreëlmatighede van die departement van openbare werke in verband met Nkandla gehad nie,” het hy gesê.

Die rand het ná Zuma se toespraak effens verswak.

WAT HET DIE OPENBARE BESKERMER BESLIS?

Die konstitusionele hof het Donderdag bevind Zuma het die Grondwet oortree nadat hy versuim het om te voldoen aan die openbare beskermer, Thuli Madonsela, se aanbevelings oor nie-veiligheidsgeriewe by sy Nkandla-woning. Die hof het ook bevind die regstellende stappe wat in die openbare beskermer se verslag van 2014 verskyn, is bindend. Dus moet die president “persoonlik” die bedrag soos vasgestel deur die nasionale tesourie binne 45 dae terugbetaal vir die nie-veiligheidsgeriewe, naamlik die besoekersentrum, amfiteater, veekraal, hoenderhok en swembad.

Vroeër Vrydag - die gissinge op sosiale media

Lees ook: ‘Beslissing wys Zuma is g’n waardige leier’

Ander stories op Huisgenoot.com

Kyk: Gasontploffing ruk Franse hoofstad

Kyk: Toeriste laat spaander toe boot hawemuur tref

Tragiese dood van skool se ‘gelukbringer’ ruk gemeenskap

SA baba met ‘lekhart’ ontroer mense wêreldwyd

Vrou wat ‘bang was vir kos’ leef drie jaar lank net van braaihoender