"Ek het baie werk wat my aandag verg. Laat my asseblief toe om dit te doen."

Dit was Woensdagaand die pleidooi van die minister vanfinasies, Pravin Gordhan, by 'n debat wat in Kaapstad deur die Kaapse Kamer vir Koophandel aangebied is.

Pravin het sy versetbrief aan die Valke, die polisie se spesiale ondersoekeenheid, voorgelees en luide applous ontvang. Dit volg nadat die Valke 'n hernude aanslag op die tesourie geloods het en hom aangesê het om môre daar aan te meld, glo omdat Pravin en sy span die laaste paar maande korrupsie en omkopery ondersoek en ontbloot het.

"Ek het op 22 Augustus 'n brief van die Valke ontvang wat vra dat ek op 25 Augustus aanmeld."

"My regspan sê ek is onder geen verpligting om aan te meld nie en enige klagte teen my het geen basis nie," het hy beklemtoon.

Lees ook: Só lyk Pravin Gordhan en sy span se terugvegpoging

Pravin en die politieke ontleder Justice Malala het aan die gesprek deelgeneem, wat vanaand by die Westin-hotel in Kaapstad aangebied is. Justice het onder meer klem gelê daarop dat werkloosheid in Suid-Afrika 'n groter probleem is as wat ons besef en dat mense glo die swak rand en ekonomiese krisis in die land hulle nie raak nie, omdat hulle deel is van die elite. "Net omdat jy steeds einde vanjaar in die Maldives kan vakansiehou, beteken nie dit raak jou nie." Hy sê Suid-Afrikaanse politici is besluiteloos en bedink die een beleid na die ander, sonder om iets in werking te stel. Tog het hy vertroue in kiesers na die afgelope verkiesing. Ek hoop die ANC luister na die boodskap wat kiesers met dié verkiesing vir hulle stuur," het hy opgemerk.

Ook Pravin het hom sterk uitgespreek daaroor dat Suid-Afrika en ondernemings meer vir armes moet doen. "Pleks van sit en kla, moet mense iets doen. Ons moet klein sakeondernemings ontwikkel en ons moet 'n brug bou tussen dié wat het en dié wat nie het nie. Hoe kan ons beter lewensgehalte vir armes gee?"

Hy het gesê die dinge waarmee Suid-Afrika vandag besig is, sou nie deur die ANC van Nelson Mandela se era geduld word nie. "Maar ek glo die ANC het nog baie eerbare lede. Dis die res wat ons moet vasvat!" het hy aan 'n juigende gehoor gesê. ""Kom ons sit korrupsie stop en nie net dié van die mense in geel T-hemde nie. Almal s'n."

Lees ook: EKSKLUSIEF: Dis waarom Pravin Gordhan geteiken word