Die “mini-begroting”, soos dit bekendstaan, behels aanpassings wat halfpad deur die jaar aan staatsbesteding gedoen word en gee aan ons ’n kykie hoe die begroting in Februarie 2017 kan lyk. Pieter du Toit lig agt goed uit wat jy moet weet:

1. Gordhan het ’n politieke meer as ’n ekonomiese toespraak gelewer Hy het pres. Jacob Zuma en ander “staatskapers” gewaarsku oor die erns en realiteit van Suid-Afrika se ekonomiese verknorsing. Hy het meer as een keer gesê baie van ons probleme is selfgemaak en kan voorkom word. Daar was geen van die liriese narratiewe verhale van vroeëre begrotingstoesprake nie: dit was saaklik en ernstig. 2. Gordhan het presidensieël voorgekom Die minister het betogende en aggressiewe studente voor sy toespraak gaan groet en buite die veiligheid van die parlementêre hekke met hulle gaan praat.

“Ek kan self lees,” was sy geïrriteerde antwoord toe ’n student vir hom uit ’n griefskrif met eise wou voorlees. Parlementslede het hom ’n staande applous voor en na sy toespraak gegee – iets wat Zuma jare laas gekry het.

3. Daar heers ’n koue oorlog tussen Gordhan en Zuma

Die minister van finansies bedank die president gewoonlik deeglik aan die einde van sy toespraak. Hierdie keer was dit nie die geval nie en Gordhan het bloot sy “dank” aan Zuma uitgespreek – nie soos Manuel met Mandela en Tambo, en Gordhan en Nene op ’n stadium met Zuma nie.

Gordhan het Zuma se hand ook net vlugtig geskud na die toespraak – mens kon die atmosfeer tussen hulle met ’n stomp mes sny.

4. Madiba is die goudstandaard

Gordhan het sy toespraak met aanhaling van oudpres. Nelson Mandela begin en geëindig, asof hy wou klem lê op die grootse leier wat Madiba was. Die eerste aanhaling was waar Mandela die belang van die mini-begroting uiteensit, en die laaste aanhaling oor die reis na geregtigheid wat nog nie voltooi is nie. Die kontras tussen Zuma en Mandela kan nie groter nie.

5. Hoër belasting is ons voorland

Die regering moet oor die volgende twee jaar R43 miljard ekstra inwin om die begroting te laat klop. Die regering gaan vanjaar R23 miljard minder as wat hy voor begroot het inwin.

6. Ekonomiese groei is pap Ons ekonomiese groeikoers gaan swakker wees as voorspel. Gordhan het gese die ekonomie gaan vanjaar met ’n halwe persentasiepunt groei, en volgende jaar met 1,7%. 7. Gordhan hou die staatsbeursie vas Ons begrotingstekort – die verskil tussen die staat se inkomste en uitgawes – gaan 3,4% van totale binnelandse produk wees, en volgende jaar na 2,5% toe krimp. Dis omdat Gordhan en die Nasionale Tesourie besteding fyn dophou. 8. Meer geld vir studente, maar hou op afbrand!

Meer as R9 miljard ekstra gaan oor die volgende vyf jaar aan beurse vir tersiêre onderrig bestee word, terwyl R8 miljard toegwys word om studente te help wat uit huishoudings kom wat minder as R600 000 per jaar verdien.

“Ons wil nie hê die akademiese jaar moet verlore gaan nie . . . die geweld moet einde kry,” het hy gesê.