"Hierdie is baie, baie erger as Nene-gate," sê die politieke ontleder prof. André Duvenhage oor die jongste politieke skommelinge in Suid-Afrika.

Nadat pres. Jacob Zuma vroeër vandeesweek die minister van finansies, Pravin Gordhan, en dié se adjunk, Mcebisi Jonas, beveel het om ’n beleggingsreis na Londen kort te knip en dringend na Suid-Afrika terug te keer, gons dit dat Zuma die twee as deel van ’n kabinetskommeling die trekpas wil gee. Duvenhage, wat aan die Noordwes-Universiteit verbonde is, sê Zuma se jongste politieke speletjies is veel erger as die berugte Nene-gate, toe Zuma in Desember 2015 Nhlanhla Nene as minister van finansies afgedank en die Suid-Afrikaanse ekonomie sowat R500 biljoen verloor het.  

“Zuma het beslis die mag om dit te doen, maar dit sal nie baie wys wees nie,” sê Duvenhage.

Tot 12 ministers oorweeg dit om te bedank en vir Zuma se verwydering as president te stem as hy wel vir Gordhan en Jonas afdank, het ingeligtes binne die ANC glo Donderdagmiddag aan Bloomberg gesê.

Die DA het ook Donderdagmiddag aangedui die party wil ’n mosie van wantroue teen Zuma indien.

Boonop is die ses belangrikste lede binne die ANC verdeel oor Zuma se voornemens om Gordhan en Jonas te pos.

“Jessie Duarte, die adjunk-sekretaris-generaal, en die speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, behoort Zuma te steun, maar hul mag is klein vergeleke met dié wat hom teengaan.”

ANC-hoës soos adjunkpres. Cyril Ramaphosa, die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, en die tesourier-generaal van die ANC, Zweli Mkhize, is glo sterk gekant teen Zuma se plan.

“Hulle het baie meer mag binne die party as Duarte en Mbete.

“Nou is die tyd vir leiers soos Ramaphosa om nie meer stil te bly nie. Zuma se grootste uitdaging lê nou in die parlement, waar al dié ministers teen hom kan draai in ’n poging om hom te probeer verwyder.

“Dit kan tot ’n volslae skeur binne die ANC lei.”

Te midde van die politieke onstuimigheid oorweeg Zuma dit glo om vroeër uit sy pos as president te tree as deel van ’n ooreenkoms met leiers binne die ANC en in ruil daarvoor dat Gordhan afgedank word, berig Reuters. Zuma sal glo sowat 12 maande vroeër die amp verlaat as die beplande tyd, het twee bronne aan Reuters gesê.

Intussen het die EFF boonop die konstitusionele hof genader met ’n aansoek wat Mbete sal dwing om stappe te doen wat Zuma se vervolging verseker. “Ons nader die konstitusionele hof as ’n laaste uitweg gegrond op ons geloof dat Zuma se gedrag rondom die Nkandla-kwessie, binne en buite die parlement, hom onbevoeg maak om die amp van president van die Republiek van Suid-Afrika te beklee,” lui ’n verklaring deur die party se woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi.