Dis mos nie om geen rede dat die Nommer Een in die land die minister van finansies terugroep Suid-Afrika toe van Londen af nie? Gordhan en sy adjunk, Mcebisi Jonas, was in Brittanje vir ’n beleggingstoer.

Wat ons tot dusver weet:

1. Gordhan en ander hooggeplaastes was op ’n beleggingstoer in Londen en Amerika

Gordhan het Sondag in Londen aangekom saam met nog hooggeplaastes in ’n poging om beleggers na Suid-Afrika te lok, berig TimesLIVE. Die groep sou twee dae in Londen wees waarna hulle twee dae na Boston sou gaan en dan twee dae na New York. Gordhan sou net in Londen wees en dan sou Jonas die gesprekke in Boston en New York gelei het.

Volgens TimesLIVE sou Naledi Pandor, minister van wetenskap en tegnologie, waarneem as minister van finansies in die tyd dat Gordhan oorsee sou wees.

2. Zuma het nie redes gegee hoekom Gordhan moes terugkom Suid-Afrika toe nie

Zuma het geen redes verskaf waarom Gordhan en Jonas moet terugkom na Suid-Afrika nie. Hy het net gesê dit moet dadelik wees. Op ’n vraag aan Gordhan of hy teruggeroep gaan word, het hy gesê dit is die president se besluit om hom terug te roep of nie, berig News24.

Maandag het Reuters en Business Day berig Gordhan het nie toestemming gehad vir die beleggingstoer nie en dat dit die rede is hoekom hy teruggeroep is.

Tog het bronne aan die Daily Maverick gesê dié reis het wel die goedkeuring van die presidensie gehad.

3. ’n Geruime tyd word al verwag Zuma gaan ’n kabinetskommeling doen

Ontleders het voorspel Zuma sal sy kabinet skommel in die tweede helfte van Maart ná die inhuldiging van Brian Molefe as ’n lid van die parlement, berig News24. Molefe was Eskom se voormalige uitvoerende hoof. Daarby is Nkosazana Dlamini-Zuma sedert 14 Maart nie meer die voorsitter van die Afrika-Unie nie.

4. As Gordhan afgedank word, kan dit ’n ekonomiese ramp vir Suid-Afrika wees

Nadat Zuma in Desember 2015 vir Nhlanhla Nene afgedank het, het die Suid-Afrikaanse ekonomie sowat R500 biljoen verloor. Volgens IOL het die Openbare Beleggingskorporasie alleen R99 biljoen in twee dae verloor.

Net die nuus dat Gordhan moet terugkom Suid-Afrika toe, het reeds die rand 30c teen die doller gekos, berig News24. Daar is geen twyfel dat die rand nog meer gaan duik as Gordhan afgedank word nie.

5. Zuma en die Guptas

Zuma het Maandag deel geword van die hofsaak wat Gordhan in Oktober verlede jaar teen die Guptas se Oakbay-groep van maatskappye ingedien het. Die saak begin vandag in die  hooggeregshof in Pretoria.

Gordhan vra ’n hofbevel wat sê dat hy as minister van finansies nie by magte is om in te gryp by die banke se besluit om die Gupta-rekenings te sluit nie. Absa, Standard Bank, Nedbank en FNB het in April verlede jaar dié besluit geneem.

Zuma het Maandag aansoek gedoen om as ’n persoon van belang deel van die hofgeding te word nadat Standard Bank vroeër die hof gevra het om sy bevel uit te brei sodat Zuma en enige ander minister ook nie in die Oakbay-banksage kan inmeng nie, berig Fin24.