Navorsers het ’n sigaretpakkie ontwerp wat jou kan laat ophou rook.

Die pakkie, wat ’n boodskap speel wanneer jy dit oopmaak, word nog getoets om te sien of dit vroue sal aanspoor om dié slegte gewoonte te laat staan.

Navorsers aan die Stirling-universiteit in die Verenigde Koninkryk het die toestel ontwerp. Dit bevat ’n opgeneemde boodskap wat vroue waarsku hulle kan vrugbaarheidsprobleme ontwikkel as hulle nie die twakkies los nie.

Die uitvindsel is aanvanklik op vroue tussen die ouderdom van 16 en 24 getoets en baie vrywilligers het gesê die boodskap was “op die man af” en het hul rooklus gedemp.

Ander vrywilligers het vertel die boodskap kan hulle aanmoedig om op te hou rook omdat dit so irriterend is. Een vrou het gesê: “Party mense sal sê ek moet ophou omdat dit nou ’n groot pyn word.”

Sheila Duffy, die uitvoerende hoof van Action on Smoking and Health in Skotland, het gesê: “Die tabakbedryf stel ’n klomp kreatiewe kenners aan om hierdie verslawende, dodelike produkte aan nuwe verbruikers, veral jong mense, te bemark.

“Ek is bly oor die voorstel dat ons kreatiewer raak om die boodskap van goeie gesondheid en ’n lewe sonder verslawing as ’n alternatief vir tabak uit te dra. Ons begin ook van tabakmaatskappye verwag om die waarheid ooglopender met hul verbruikers te deel.”