Die gewilde aktrise en geregistreerde psigometris Leandie du Randt se eerste boek, Gemaklik in Jou Eie Lyf, is onlangs bekendgestel en dit kan dalk net jou dogter se nuwe beste vriendin word!

Hoekom moet my dogter dit lees?

Gemaklik in Jou Eie Lyfis geskryf met die doel om tienermeisies anders oor hulself te help dink, om meer selfvertroue te kry en lewenslesse te leer wat op hul daaglikse lewe van toepassing is. Alhoewel daar ’n sterk geestelike boodskap is, preek Leandie nie en sy maak dit duidelik dat die boek vir enigiemand is, wat hul geloofsoortuiging ook al is.

Hoe werk dit?

Die boek word as ’n drie weke lange kursus aangebied met praktiese oefening aan die einde van elke dag. Die inhoud van die boek dek kwessies wat tienermeisies daagliks raak, soos dwelm- en alkoholmisbruik, groepsdruk, eetsteurings, liggaamsbeeld en dieper kwessies rondom gedagtes, innerlike selfvertroue en geestelike welstand.

Meer oor Leandie

Leandie is dalk ’n suksesvolle aktrise, model en stemkunstenaar, maar sy is ook ’n gekwalifiseerde psigometris met ’n B.Com.Hons. in bedryfsielkundige.

Sy streef daarna om jong meisies te help deur gebruik te maak van haar eie persoonlike ondervindings sodat hulle selfvertroue kan ontwikkel en ook die beste weergawe van hulself kan wees.

Sy beplan om later vanjaar saam haar skoonsuster ’n loopbaansentrum te open waar hulle jongmense met beroepskeuses help. “Ons wil ’n anderste touch as die normale aanlegtoetse daaraan sit deur vir tieners rêrig ’n passie, loopbaan en lewenspad uit te werk. Iets wat hulle opgewonde sal maak oor die toekoms,” vertel Leandie.

Vir nog inligting

Gemaklik in Jou Eie Lyf is teen R120 in boekwinkels deur die hele land beskikbaar en Leandie sal van Julie na verskillende skole gaan om inspirerende toesprake te lewer.

Kontak Leandie by durandtleandie@gmail.com of 082-776-9158 vir nog inligting.

- Janine Nel