Huisgenoot het die eerste uitgawe ná haar dood aan haar gewy en tot vandag bly daardie voorblad met Diana se gesig en ’n bos blomme in haar hand ons topverkoper.

[caption id="attachment_135433" align="aligncenter" width="600"]Huisgenoot, 11 September 1997. Huisgenoot, 11 September 1997.[/caption]

Ons kyk terug na die sprokie van Diana.

Eendag, lank, lank gelede is ’n meisietjie in Engeland gebore. Haar pa was ’n graaf en haar ma die dogter van ’n baron. Die graaf het reeds twee dogters gehad en met die derde se koms innig gewens dit moet ’n seun wees.

Maar die derde een was weer ’n meisietjie. Hy was teleurgesteld en hartseer. Tot hy haar die eerste keer gesien het. Toe raak hy eers verlief op die klein bondeltjie met die blonde haartjies en sagte blou ogies. Haar naam was Diana.

di

Diana het op ’n landgoed in ’n yslike groot huis met 10 slaapkamers grootgeword. Dié landgoed het aan niemand anders nie as die koningin van Engeland behoort.

Diana was ’n gelukkige meisietjie, maar toe sy ses jaar oud was, het dinge in die gesin skielik skeefgeloop. Haar ma, Frances, het met ’n ryk man weggeloop. Haar pa en ma het baklei oor wie van hulle twee na die drie dogters gaan kyk. Eindelik het Diana se pa gewen en kon hy na die dogters omsien.

Maar die bakleiery het arme Diana se sagte hartjie baie seergemaak. Sy het haar naels begin kou en kon nie meer die wêreld in die oë kyk nie. In die klaskamer was sy nie een van die slimmes nie, maar sy het darem goed gevaar in sport. Sy het veral van swem gehou en was goed daarin.

Boonop het sy verlief geraak op ballet. Soos baie ander meisies in die koninkryk het Diana saans van die koningin se oudste seun gedroom. Sy naam was Charles, die prins van Wallis.

Bo haar bed in die skoolkoshuis het ’n foto van die prins gehang.

“Eendag wanneer ek groot is, wil ek ’n ballerina wees of die prinses van Wallis,” het sy aan een van haar klasmaats verklap.

Die prins was 13 jaar ouer as Diana en boonop haar suster Sarah se kêrel. Maar Diana het aanhou droom.

Eendag, toe Diana 16 was, het die prins by Sarah kom kuier. Hy het die pragtige Diana op die landgoed opgemerk, maar gou weer van haar vergeet.

Drie jaar het verbygegaan en Diana het ál mooier en mooier geword. Op ’n dag nooi die koningin Diana om by Sandringham te kom kuier en sy loop Charles weer raak. Diana het hom so bekoor dat hy haar later na partytjies genooi het.

Toe maak hy en sy vaste meisie uit. En sy pa en ma begin wonder wanneer Charles gaan trou, want hy is toe al ouer as 30. Hy het by sy ouma gaan raad vra. Sy ouma het geweet hoe dol Diana oor Charles is en stel toe voor hy moet Diana oorweeg. En so vra Charles Diana toe om met hom te trou. Die skaam skoonheid het ingestem om sy prinses te word.

Die troue was ’n spoggerige affêre. Van oor die hele wêreld heen het konings, prinse, presidente en eerste ministers gekom.

Diana was ’n visioen in haar trourok met sy lang, lang sleep.

Charles en Diana het in ’n goue koets na Buckingham-paleis gery.

’n Miljoen mense het langs die strate gestaan en hulle toegejuig terwyl biljoene die seremonie op die kassie gekyk het.

Op die paleisbalkon het Charles Diana op die mond gesoen.

So het CBS die fenomenale gebeurtenis aangebied:

Hul wittebrood, ’n vaart op die koningin se jag, was net so romanties soos die soen.

Maar een aand het Diana iets gesien wat haar baie ongelukkig gemaak het. Charles het ’n geskenk van ’n vriendin gedra, ’n paar goue mansjetknopies waarop F&G graveer was. Die F&G het vir Fred en Gladys gestaan, Charles en Camilla se byname vir mekaar. Diana het onmiddellik geweet dit staan vir Charles en Camilla, maar Charles het haar verseker hulle is net vriende. As sy net geweet het . . .

Diana en Charles se eersteling is 11 maande ná die troue gebore. Hy heet William.

Twee jaar later het hy ’n boetie, Harry, gekry. Diana was ’n wonderlike mamma vir haar twee seuns.

Van buite het die gesin dolgelukkig gelyk en Diana en Charles smoorverlief.

Aanvanklik was Charles in sy skik met sy mooi, jong vrou so tussen al die stywe koninklikes. Boonop was die nasie mal oor haar.

Later kon Charles dit nie meer vat dat sy mooi vrou al die aandag kry nie en begin haar toe by die huis los. Maar Diana het nie lank alleen by die huis gesit nie. Sy het na minderbevoorregtes uitgereik en mense met vigs en kanker in hospitale besoek. Die nasie het ál liewer vir haar geraak.

Sy en Charles het uitmekaargedryf en was nie meer lief vir mekaar nie. Almal het onder mekaar gewonder wat tussen hulle gebeur het. Dalk was Charles te oud vir haar? Dalk verskil hulle te veel? Maar die nare waarheid was dat Charles vir ’n ander vrou lief was: die einste Camilla, wat getroud was met ’n vriend van die prins.

Diana se hart was stukkend. Sy het ophou eet en baie gewig verloor. Sy het by ander mans troos en liefde gaan soek. Een van hulle was James Hewitt. Maar hy het haar verraai en ’n boek geskryf waarin hy alles oor hul verhouding uitgelap het.

Ná 11 jaar as getroudes het die eerste minister aangekondig die prins en prinses gaan voortaan apart leef en vier jaar later is hulle finaal geskei.

Camilla het intussen ook van haar man geskei en die mense het begin wonder of sy en Charles gaan trou. Op 9 April 2005 trou Charles en Camilla tydens ’n privaat geleentheid.

Diana was steeds ongelukkig en het gewonder of sy ooit ’n man sal ontmoet was net so lief vir haar gaan wees.

Toe nooi ’n vriend Diana en haar seuns om saam met hom en sy familie by die see te gaan vakansie hou. Hy was een van die rykste mense op aarde en het sy seun Dodi aan Diana voorgestel. Die volgende weke was vir die twee soos ’n droom. Hulle was verlief en gelukkig.

Diana het in Dodi-hulle se privaat vliegtuig gevlieg. Sy pa het nie ’n paleis besit nie, maar wel ’n paleis van ’n hotel in die Franse stad Parys. Hulle het weer by die see gaan vakansie hou, en toe word dit ’n nuwe sprokie van liefde. Hulle wou hê die hele wêreld moet weet hulle is verlief.

Toe gaan kuier Diana weer in Parys by Dodi. Hulle het gelag en feesgevier. Laataand ry hulle in ’n spogmotor weg. Fotograwe staan oral rond om die verliefde paartjie af te neem.

En dan gebeur die vreeslike ding: Die spogmotor bots en Dodi sterf dadelik. Dokters het hard probeer om Diana lewend te hou, maar ure later sterf die mees geliefde prinses ook.

Die koninklike sjef het reeds aandete vir haar en haar seuns voorberei. Tevergeefs.

Daardie volgende oggend hoor biljoene mense wêreldwyd die skokkende nuus. Hulle huil, treur, bring blomme en skryf kaartjies.

Hulle praat oor die wonderlike prinses. Almal sê daar sal nooit weer so ’n prinses wees nie, want sy was meer as net die prinses van Wallis.

Op 6 September 1997 word sy te ruste gelê. Maar in die hart van talle sal Diana, die prinses van harte, bly voortleef.

Elton John se huldiging aan Diana tydens die begrafnisdiens sal talle vir altyd bybly.

Sy laat aan die wêreld twee seuns na, vandag twee jong manne waarop enige ouer baie trots kan wees. Wat 'n nalatenskap.