Die tweejarige Loui van Brighton ly aan Treacher Collins-sindroom – ’n toestand wat voorkom by een uit 50 000 mense en die ontwikkeling van die bene en weefsel in die gesig beïnvloed.

Loui se toestand is so erg dat hy ’n trageostomie-buis kort om asem te haal en eet deur ’n gastrostomie-buis wat reguit na sy maag lei.

Die dapper kleuter moet ook ’n gehoortoestel dra, kan nie praat nie en verg dag en nag versorging.

[caption id="attachment_171215" align="alignnone" width="600"]Foto: Magazine Features Foto: Magazine Features[/caption]

Maar ten spyte hiervan is Loui Heath Herriott – sy trotse ouers, Karly (29) en Luke (30) noem hom heel gepas Loui Legend – mal daaroor om vir die kamera te poseer. En hy is gekies om model te speel vir die aanlyn maatskappy Lulas Dudes & Dolls.

Die maatskappy het klein Loui Legend raakgesien nadat ma Karly vir hulle ’n foto van hom gestuur het wat een van hul T-hemde dra.

En nadat hulle die foto aanlyn gedeel en verkope van die T-hemp die hoogte ingeskiet het, het hulle sy potensiaal raakgesien en hom as hul jongste modeltalent aangestel.

Lulas Dudes & Dolls het nou selfs twee nuwe T-hemde ter ere van Loui uitgereik om te help geld insamel vir spesialisoperasies wat hy nou en in die toekoms nodig sal hê om sy lewensgehalte te verbeter. Karly, ’n deeltydse veeartsenykundige verpleegster, het gesê: “Ek het net ’n foto van hom ingestuur wat een van hul toppies dra en hulle het my genader en gevra of hulle dit op hul Instagram-blad kon plaas. Honderde mense het van die foto gehou en die verkope het toegeneem. “Toe hulle my vra of hy model kan speel, was ek nogal geraak. Dis ’n groot ding vir hom en ook om bewusmaking oor Treacher Collins-sindroom te skep. “Loui se geval is ongelukkig baie ernstig, want omdat sy ken so klein is, kort hy ’n trageostomie om te kan asemhaal. Die versorging en verantwoordelikheid wat dit behels, is baie groot. As dit uitkom of geblokkeer raak, sal hy binne oomblikke sukkel om asem te haal,” sê sy.

“Iemand moet hom selfs dophou wanneer hy slaap ingeval dit uitkom. Hy raak in ’n oogwink bleek. Dis vreesaanjaend. Ons mik daarna om die operasie aan sy verhemelte agter die rug te kry sodat die trageostomie eindelik verwyder kan word.

“Sodra dit uit is, sal hy kleuterskool toe kan gaan en leer swem en praat. Hy kommunikeer tans met ons deur gebaretaal – hy’s baie slim.

“Ná die aanvanklike operasie wat sy lewensgehalte sal verbeter, sal dit wonderlik wees as daar genoeg geld is sodat hy kan besluit of hy nog operasies wil ondergaan wanneer hy ouer is.

“Mense kyk dikwels twee keer, maar nie om lelik te wees nie. Daar was al ’n paar lelike aanmerkings, maar ek het geleer om my nie daaraan te steur nie. Die meeste mense is vriendelik en dis ongelooflik hoevel bereid is om hul tyd en geld te gee om te help.”

Besoek GoFundMe as jy Loui wil help.

– Magazine Features