Hulle is gebore met Downsindroom, wat Joe “Up Syndrome” noem omdat hulle weier dat dit hulle onderkry. Hul liefdesvlam brand net so hoog soos enige ander jong paartjie s'n.

En toe hulle ’n paar maande gelede trou in Surrey, Engeland, was dit so ’n sonderlinge gebeurtenis, dit het die glansblaaie gehaal van Rock n Roll Bride, ’n tydskrif vir “alternatiewe bruide”.

Polly en Joe het hul troudag beskryf as 'n huweliksfees, wat hulle saam met 200 gaste gevier het. Hulle het op die onthaal op ’n troon in die vorm van ’n eenhoring gesit, hul kelners het regdeur die fees liedjies gesing, hul troukoek was versier met helderkleurige sprinkels en daar is baie, baie gedans.

“Ons albei hou van sing en dans en ons het ons gunstelingliedjies gekies,” sê Polly. “Joe en sy broer het met die rooi tapyt afgestap op die maat van You’ve Got a Friend in Me en ek het in die paadjie afgestap op When You Wish Upon a Star.

"Voor ons ons troubeloftes afgelê het, het I Do, I Do, I Do gespeel met ons gaste wat op kazoo's (prettige blaasinstrumentjies) gespeel het," vertel Polly.

"Ons het gedans op die maat van Come What May voor ons mekaar se trouring aangesteek het. I’m A Believer het gespeel toe ons die kerk verlaat en mense ons met konfetti bestrooi het."

Lees ook: Goedhartige weldoeners betaal vir Huisgenoot-leser se droomtroue ná brief

Die paartjie deel ’n baie spesiale band, vertel Polly se ma, Janet Gibson. “Hulle maak heeltyd seker die ander een is oukei, help mekaar, en is vriendelik en bedagsaam met mekaar."

“Polly sit soms op sy kop; Joe is meer plat op die aarde. Hy is versot op haar. Hulle is heeltemal op hul gemak met mekaar en het respek.”

Polly hoop dat hul liefdesverhaal en huweliksdag ander paartjies met spesiale behoeftes sal inspireer.

“My raad aan ander paartjies, veral jong volwassenes met spesiale behoeftes, is om hul drome uit te leef en te glo dat enigiets moontlik is."

Bronne: huffingtonpost.co.za, dailyme.com, naturezone.nu, rocknrollbride.com .