Aletté het in ’n wit rok van kant saam met ’n netjies uitgevatte Heinz voor die kansel gestaan, 10 jaar nadat hulle die eerste keer afgehaak het.

“Dit was so spesiaal om hierdie dag met familie en vriende te deel,” skryf Heinz op sy Facebook-blad. Hy beskryf die huwelik as ’n “Goddelike instelling”.

Hulle het hul beloftes in Paarl herbevestig. Maar die keer was hul drie seuntjies ook daar om te sien hoe hul ewige liefde aan mekaar beloof.

Aletté het in ’n kort video gesê dit was die tien beste jare van haar lewe, maar ook die tien moeilikste jare. “Dit was nie elke dag maklik nie,” sê sy terwyl die stiliste besig is met haar hare.

“Ek dink mense dink ons het dit alles uitgewerk en woon in hierdie borrel. Maar ek kan julle verseker: as dit nie vir God was nie, sou ons nie meer bymekaar gewees het nie. Ons moes baklei en deur trek. Ons moes deur donker-donker valleie gaan, van toetse en verleiding en goed waarmee ek jou die hele dag kan besig hou.

“Maar is dit die moeite werd, aan die einde?” vra sy en sê dan beslis: “Ja dit is.”

Sy moedig mense in haar video aan om vir hul huwelike te baklei. “Moet nooit opgee nie. Daar is altyd hoop,” sê sy.