Sjoe, dit lyk mos of die Blitsbok Francois Hougaard (27) die skoot omtrent hoog deur het! Francois en sy nuwe liefie, Annebell van Heerden (22), koer behoorlik in sosiale media.

Francois, wat vir die Engelse klub Worcester Warriors uitdraf, het op Valentynsdag ’n foto op Instagram gedeel waar hy ’n soen op Annebell se wang plant. Verlede week het die blonde skoonheid, wat skakelwerk by ’n prokureursfirma in Johannesburg doen, ’n foto op haar Instagram-profiel gedeel waarop sy met ’n blompot vol rose staan. “My dag het met ’n goorharedag begin, maar dit het pas net baie beter geraak,” het sy toe vertel. “Nou kan ek agter (die blomme) wegkruip.”
Haar romantiese kêrel het toe op dié inskrywing gereageer deur drie hartjies te plaas. Die paartjie het mekaar in Julie deur ’n gemeenskaplike vriend ontmoet. “Ons het in Augustus begin uitgaan,” vertel Annebell vir ons. “Ons het mekaar in ’n vriend se restaurant in Pretoria ontmoet. Ek het natuurlik geweet wie hy is, maar ek het hom nie persoonlik geken nie,” vertel sy en lag. ’n Vriend het hulle aan mekaar voorgestel en hulle het dadelik gekliek.
Tog was hulle albei gelukkig om enkellopend te wees, sê sy. Hulle het saam begin kuier en die res is geskiedenis. Hougie is romanties verby, vertel sy. Hy stuur gereeld vir haar blomme, veral wanneer hy toer. Sy sluit juis einde vandeesmaand by hom aan in Engeland. Te oulik!

Vyf goed wat jy oor Annebell moet weet:

1 Sy kom van Brits in Noordwes, maar woon deesdae in die Goudstad. 2 Sy hou van tatoes, nes Francois! Annebell het vyf tatoes. Sy is besig om een van haar tatoes op haar sleutelbeen met laserbehandeling te laat verwyder. Haar gunstelingtatoe is die een op haar rug, vertel Annebell. Dit lui: “She flies with her own wings.”
3 Annebell het Francois al aan haar familie voorgestel. Hy het Kersfees by hulle op Brits deurgebring. 4 Haar stiefpa, Sean Jacobs, is ’n boer en haar ma, Annelie, werk by ’n kleuterskool. Sy het twee broers, Jan van Heerden (27) en Christo Jacobs (5), en ’n 20-jarige suster, Hesmarie van Heerden. 5 Sy is duidelik ’n bobaasbakster. Sy het op Valentynsdag ’n foto van ’n tuisgemaakte rooifluweelkoek op Instagram gedeel waaraan sy en Hougie gesmul het. Ons wonder of hy hand bygesit het in die kombuis . . .

– Lara Atson

Ander stories op Huisgenoot.com

Jy sal nie glo hoe 7de Laan se Bart deesdae in Amerikaanse reeks lyk nie

‘Bid asseblief,’ pleit ma van vierjarige wat om sy lewe veg

Dapper vrou red haar man met geweld uit krokodil se kake

Moet ek my baas in sosiale media bevriend? Hier’s wenke oor aanlyn etiket

Ontstellende video wys hoe kleuter uit bewegende motor val en net weer opstaan

Kyk: Vrou wat met vals huweliksaanbod uitgevang is, neem soete wraak op kêrel