As ouer is dit nie altyd moontlik om 24/7 bewus te wees van wat jou kinders doen nie, veral wanneer dit by hul aanlyngewoontes kom.

Tog is daar maniere wat jy jou kinders se gebruik van sosiale media en die internet kan reguleer.

Doktor Jolanda Dreyer, ’n beradingsielkundige van Pretoria, gee die volgende wenke om ’n gesonde gesprek met jou kind oor sosiale media te hê.

“Streng en konsekwent wees, is sleutelwoorde,” sê Jolanda.

Sy stel voor dat ouers veral jonger kinders se internetgebruik beheer deur aan hulle ’n data-uur te gee, waartydens hulle die internet mag gebruik, hetsy op hul selfoon, rekenaar of tablet.

“Die res van die tyd behoort die toestel se data af te wees.”

Sy beveel aan dat dié data met ’n wagwoord aan- en afgesit word sodat net die ouers dit kan beheer en dat ouers ’n ogie oor kinders hou wanneer hulle die internet gebruik deur byvoorbeeld in dieselfde vertrek as hulle te wees.

“Daar kan dalk selfs situasies opduik waar jy op die oomblik raad en opvoeding aan jou kind kan gee.”

Jolanda sê dié tipe geleentheidsopvoeding is baie nuttig om kinders gesonde gewoontes te leer.

“’n Oop en eerlike verhouding met jou kind is belangrik,” voeg sy by.

Dit is belangrik dat jy van jongs af met jou kind oor die internet en sosiale media praat en hulle reeds op ’n jong ouderdom goeie waardes leer, sê sy.

“As jou verhouding met jou kind eerlik genoeg is, behoort daar betrokkenheid en aanvaarding van jul albei se kant te wees sodat jou kind met graagte sy lewe met jou sal wil deel,” antwoord sy op die netelige vraagstuk oor of kinders nie ’n reg tot aanlynprivaatheid het nie.

Sy sê ’n kind wat niks het om weg te steek nie, sal uit hul eie oop wees met hul ouers en dis daarom belangrik om hulle reeds van kleins af goeie waardes te leer.

“Ouers sal verbaas wees hoeveel kinders bereid is om ’n oop, eerlike verhouding te hê.”

Dr. Jolanda Dreyer is ’n beradingsielkundige en opvoedkundige spesialis van Pretoria. Kliek hier vir meer inligting en haar besonderhede.