’n SuperMa in ons Facebook-gemeenskap het onlangs raad gevra oor haar agtjarige outistiese seun, wat ’n afwesige pa het. Sy skryf: “My seun het begin vra oor sy pa en hoekom hy nooit kom kuier nie. My lewensmaat vervul die rol van ’n pa in sy lewe en hulle het ’n wonderlike verhouding. Ek kan dit net nie oor my hart kry om hom die waarheid te vertel nie – sy pa sê hy kon onmoontlik ’n gestremde kind verwek het.”

Ons het by ’n kenner gaan aanklop om dié ma te help, maar die ons raad is ook van toepassing in ander situasies waar ’n ouer onbetrokke is.

Elise Fourie, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, meen dié ma is reg dat dit nie konstruktief sal wees om vir haar kind die waarheid te vertel nie. “Dit sal hom net seermaak en verwerp laat voel, wat eindelik ’n gevoel van waardeloosheid en ’n lae selfbeeld kan veroorsaak.”

Dit is van die uiterste belang dat die kind nooit moet dink hy is nie sy pa se liefde werd nie, sê Elise. Haar raad is om die situasie so aan die kind te verduidelik: Jou pa is nie daartoe in staat om nou vir jou ’n ouer te wees nie, want hy weet nie hoe nie. Tot hy geleer het hoe om ’n pa te wees, kan hy nie vir jou kom kuier nie; dalk maak hy jou gevoelens seer. Ons hoop dat hy eendag sal leer hoe om ’n pappa te wees.

“Help jou seun verstaan dit is oukei as jou lewensmaat vir hom ’n pa-figuur is, want baie mense het mentors wat soos ouers vir hulle is,” voeg Elise by.

Probeer dit so oordra: Jy is ’n baie gelukkige seun, want (jou lewensmaat) is deel van ons lewe en hy wil graag soos ’n pa vir jou wees. Hy wil jou oppas soos pappas met hul seuns doen. Dink jy nie hy was tot dusvêr ’n goeie pappa nie? Julle doen allerhande pa-en-seun-dinge saam, soos (noem hier ’n paar aktiwiteite). Dit is oukei jy hom soos ’n pa liefhet. As jy wil, kan ons selfs ’n spesiale naam vir hom uitdink om te wys hoe spesiaal hy vir jou is.

- Shané Barnard

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.