Die bestanddeel, gebromeerde plantolie, is die teiken van ’n petisie deur ’n tiener van Mississippi wat bevraagteken het hoekom dit in ’n drankie gebruik word wat op gesondheidsbewuste atlete gemik is. Volgens die petisie op Change.org word die bestanddeel verbind met ’n vlamweerder en is dit nie goedgekeur vir gebruik in Japan of die Europese Unie nie.

PepsiCo het in reaksie op klante se terugvoer verlede jaar gesê hulle gaan die bestanddeel uit Gatorade laat. Coca-Cola het toe nie aangedui of hulle die bestanddeel uit die twee soorte Powerade-drankies gaan verwyder wat dit ook bevat nie.

Maar vandeesweek  het bottels Powerade in die vrugtepons- en aarbei-limonade-geure wat in gebiede in Detroit, Michigan, Omaha, Nebraska, New York en Washington D.C. verkoop word, nie meer die bestanddeel bevat nie. Dit verskyn nog op party bottels se lys bestanddele, wat daarop dui dat Coca-Cola Co. dit onlangs begin uitfaseer het.

’n Verteenwoordiger vir die maatskappy in Atlanta het Sondag bevestig hul Powerade-drankies “bevat nie gebromeerde plantolie nie”. Geen ander besonderhede was beskikbaar oor wanneer die verandering afgehandel sal wees of hoe die drankies herformuleer is nie.

Op Powerade se webtuiste word gebromeerde plantolie steeds aangedui as bestanddeel vir hul vrugtepons- en aarbei-limonade-geure.

Die voedsel- en medisyne-administrasie sê gebromeerde plantolie word gebruik as ’n stabiliseerder vir geurolies in vrugtegeur-drankies. Coca-Cola het in die verlede gesê hulle gebruik dit om “stabiliteit te verbeter en te verhoed dat sekere bestanddele van mekaar skei”.

Coca-Cola se besluit om gebromeerde plantolie uit hul Powerade-drankies te verwyder, is die jongste bewyse dat kosvervaardigers onder druk kom vir bestanddele wat hulle gebruik. Hoewel maatskappye volhou dat die produkte veilig is, maak party veranderinge in reaksie op die beweging na kosse met natuurlike bestanddele.

Subway het byvoorbeeld vroeër vanjaar ’n bestanddeel wat bekendstaan as die “jogamat chemiese stof” uit hul brode verwyder. Die bestanddeel, asodikarbonamied, is goedgekeur vir gebruik deur die voedsel- en medisyne-administrasie en kan in ’n verskeidenheid brode gevind word. Die petisionaris, Vani Hari van FoodBabe.com, het gesê sy het Subway geteiken oor hul beeld dat hul gesonde kosse bedien. Gebromeerde plantolie kan ook in verskeie ander drankies gevind word.

Maar Sarah Kavanagh, die tiener van Mississippi, sê sy het Gatorade en Powerade in petisies geteiken omdat dit vir atlete vervaardig word, wat waarskynlik meer begaan is met wat hulle inneem. Haar Powerade-petisie het meer as 59 000 aanlyn ondersteuners gelok en die een teen Gatorade meer as 200 000.

“Verbruikers kom vinnig en op doeltreffende wyse bymekaar om die wêreld se grootste drankievervaardigers op ’n ongekende wyse te beïnvloed,” sê Pulin Modi, ’n senior veldtogbestuurder vir Change.org.

Met Amerikaners wat minder gaskoeldrank drink, het sportdrankies belangriker geword vir Coca-Cola en PepsiCo Inc, wat in Purchase, New York, geleë is.

Hoewel Coca-Cola hul teenstander, PepsiCo, oorheers het in die gaskoeldrankmark, suig dit aan die agterspeen in die groeiende sportdrankie-afdeling. Volgens Beverage Digest besit Gatorade 64 persent van die mark vir sportdrankies.