[caption id="attachment_165910" align="alignnone" width="600"]PHOTO: Wenn Foto: Wenn[/caption]

“Ek wou breekware skep wat ’n tikkie sterflikheid by die alledaagse lewe inbring.”

Die pottebakker Justin Crowe wil egter hê jy moet uit jou heengegane geliefdes se as eet en drink!

Die 28-jarige stigter van Chronicle Cremation Designs het welslae behaal ná ’n kunsprojek genaamd Nourish. Daarvoor het hy by beenhandelaars die as van 200 mense gekry en dit gebruik om keramiek-breekware te skep. Gaste is later by ’n dinee daaruit bedien.

“Ek wou eetservies skep wat ’n tikkie sterflikheid by die alledaagse lewe inbring,” het hy aan The Guardian gesê.

Die kunstenaar, wat in Mexiko bly, het verduidelik hy koop menslike oorskot en verwerk dit tot as. Die as word in ’n vysel met ’n stamper fyner gemaak en dan met glasuur gemeng. Blompotte, kershouers, koppies en bakke word dan daarmee glaseer.

“Dit het afsydig en eensaam gevoel om iemand te onthou deur na ’n foto of ’n verassingsfles te kyk,” het hy aan Metro vertel.

Justin sê hy wou ná ’n persoonlike verlies nuwe, innoverende maniere uitdink om die gees van geliefdes lewend te hou. “Ek wou tasbare aandenkings skep wat verseker die oorledene bly deel van die alledaagse lewe.”

Justin het ook gesê sy maatskappy bied ’n versamelaarstel waarin mense 100 g as kan plaas om die besonderse eetservies te skep.

“Dit kos sowat R5 390 om die as-glasuur te skep en dit kan op tot 25 produkte gebruik word – wat wissel van R2 147 vir juweliersware tot R7 412 vir bakke wat as fokuspunt op die tafel dien,” het hy vertel.

[caption id="attachment_165911" align="alignnone" width="600"]PHOTO: Wenn Foto: Wenn[/caption]

’n Nederige koffiebeker kos net R2 387.

Justin se vreemde innovasie het “oorweldigende belangstelling” uitgelok, maar hy erken nie alle reaksies is so gunstig nie. Mense het selfs gedreig om hom te ondersoek.

“Die grootste uitdaging was om uit te werk hoe om oor ’n hoogs sensitiewe onderwerp te praat sonder dat die gesprek oorskadu word deur ’n produk wat lyk of dit onnodig sensasiebelaai is,” voeg hy by.

Om sy saak te steun, het hy onthul hy drink self koffie uit sulke bekers.

Justin hoop sy ontwerpe sal mense anders oor sterflikheid laat dink. “Ons begryp ons proses kan as verstommend of ongewoon beskou word, maar ons produkte bied mense die unieke geleentheid om hulle te omring met die herinnering aan iemand wat hulle liefgehad het.

“Mense vir wie ons produkte iets beteken, herinner ons elke dag aan die waarde van dit wat ons geskep het.”

Bronne: TheGuardian.com, HuffingtonPost.co.uk, Cremationdesigns.com, Youtube