Die ongevalle-eenheid by die Potchefstroom-staatshospitaal is Woensdagaand onder kwarantyn geplaas nadat ’n pasiënt Woensdag met ’n hoë koors in die hospitaal opgeneem is.

“Die 72-jarige man van een van die plaasgemeenskappe by Potchefstroom het op 8 Oktober hospitaal toe gekom,” het die woordvoerder Tebogo Lekgethwane in ’n verklaring gesê.

“Hierdie pasiënt het gekla van koors, swakheid en ’n hoes. Klinies het hy simptome van hemorragiese koors getoon en is in afsondering geplaas. Bloedtoetse is uitgevoer en die viroloog is ingelig gebaseer op die uitslae.”

Volgens Tebogo is infeksiebeheer-maatreëls opgeskerp en die man en personeel is in afsondering geplaas.

“Die pasiënt is toe verwys na die Klerksdorp/Tshepong-hospitaalkompleks en alle personeellede wat met die pasiënt in aanraking was, is ontsmet, insluitend die ongevalle-afdeling en al die toerusting,” het hy gesê.

Die departement sê hulle sal almal monitor wat met die man in aanraking was.

Tebogo het geen nadere besonderhede verstrek nie en kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Dit is onduidelik of Ebola vermoed word.

Volgens eNCA het die nasionale gesondheidsdepartement ontken die man word vir Ebola behandel. ’n Woordvoerder, Joe Maila, het gesê die man word behandel vir ’n hoë koors wat nie verwant aan Ebola is nie.

“Ons weet iemand het met ’n koors hospitaal toe gekom en hy was nog nooit buite Suid-Afrika nie,” het hy gesê. “Dit is dus hoogs onwaarskynlik dat Ebola ’n moontlikheid is. Maar die dokters doen alles in hul vermoë om te verseker hulle diagnoseer die pasiënt se toestand.” Volgens Dr. Lucille Bloomberg van die Instituut vir Oordraagbare Siektes was die man nooit buite die landsgrense nie en het hy beslis nie Ebola nie, berig Netwerk24. Bronne: Sapa, Netwerk24