Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) se jaarlikse verhogings het sonder veel fanfare plaasgevind. Van 1 April is die meeste basiese posdienste met tussen 30 sent en 70 sent verhoog.

Geen amptelike persverklaring is beskikbaargestel nie en dis ook nie maklik om die nuwe inligting op hul webtuiste op te spoor nie. Blykbaar is daar ook nie bygewerkte brosjures beskikbaar in poskantore landwyd nie.

Gewone klein pos het van R3 tot R3,30 gestyg, middelslaggrootte-pos van R5,95 tot R6,55 en groot pos van R7,30 tot R8.

Een van die grootste veranderings is die kansellasie van die gewilde Econoparcel-opsie. Dit het gelei tot 'n prysstyging van R22,80 tot R40,90 in hierdie posgroottekategorie.

Fin24-gebruiker Paul Knight beweer dat Sapo nie eens hul eie personeel oor die verhogings ingelig het nie. Sapo ontken dit en het aan Fin24 genoem dat hul personeel 'n boodskap op die verkooppuntstelsel ontvang het voor die diens opgeskort is.

Dis reeds 'n week nadat die verhogings in plek gestel is, maar daar is nog groot onkunde oor wat die nuwe pryse is.

Navraag by 'n poskantoor om die nuwe brosjure te bekom, was vrugteloos. Fin24 is aangesê om dit van die staatsdrukker-webtuiste te bekom. Maar dit is ook nie daar te kry nie.

Die inligting is blykbaar onder die “gereelde vrae”-afdeling op die webtuiste geberg.

Sapo-woordvoerder Johan Kruger het Fin24 ingelig dat alle poskantoor-kassiere ingelig sal word oor waar die aanlyn heffingskaarte beskikbaar is om seker te maak hulle het wel die regte inligting voor hande.

* KLIK HIER om die aanlyn-heffingskaarte af te laai

BRON: Fin24