’n Poskaart het 45 jaar nadat dit vanaf die Isle of Wight gepos is, by die regte adres aangekom.

Die korrespondensie, wat van 1968 dateer, is deur ’n universiteitsdosent, Martin Morgan-Taylor, by sy huis in die graafskap Leicestershire in Engeland ontvang. Sy huis was inderdaad die bestemming vir die poskaart, maar was bestem vir die vorige eienaar, wat in die middel 90’s oorlede is.

Die poskaart, wat van die Isle of Wight af gestuur is, lui eenvoudig: “From Margaret and Ron.”

“Ek het pas teruggekom vanaf ’n besoek aan Indië en ek was nog baie vlugflou,” het Martin aan die Leicester Mercury gesê.

“Ek het wakker geword uit ’n nege uur lange slaap en ek was nie presies seker watter dag dit was nie. Maar toe ek die ou poskaart in my posbus sien, was ek redelik seker dit is nie 1968 nie.”

- Bang Showbiz