Sy is nou ook aangewys as die beste entrepreneur in Brittanje.

Maar nie almal is te gaande oor dié prestasie nie en trek hul neus op vir die gerespekteerde saketydskrif Management Today se lys van die top-100 entrepreneurs in die land.

Volgens ’n paar bitterbekke kan enigiemand so bekend en ryk soos Posh ’n suksesvolle sakeonderneming bou en uitbrei.

Maar Forbes, nog ’n gerespekteerde saketydskrif, het die kritiek teen Victoria (40) as snobisties beskryf. Volgens die tydskrif is die kriteria vir die beoordeling van die beste Britse entrepreneurs op onweerlegbare statistieke van die afgelope vyf jaar gegrond.

Daaronder tel onder meer goeie verkoopsyfers en die werksgeleenthede wat geskep is, berig The Telegraph.

En die harde statistieke tel hier in Victoria, ’n ma van vier, se guns en spreek vanself. Vyf jaar gelede het sy haar winkel in Londen met net drie werknemers geopen. Haar omset het van R17,5 miljoen per jaar tot R525 miljoen verlede jaar gegroei en haar personeel tot 100. Dis ’n verstommende groei van 2 900 persent.

Andrew Saunders, adjunkredakteur van Management Today, het aan The Daily Telegraph gesê Victoria se sukses is nie alleen aan haar bekendheid te danke nie. “Sy kry baie kritiek omdat sy ’n bekende fashionista is, maar dis nie regverdig nie. Sy het iets werkliks en kontemporêrs gebou uit haar bekendheid. Dit verdien om erken en gevier te word.”

- Danel Blaauw 

Bron: The Telegraph