Die modeontwerper en ma van vier – Brooklyn (14), Romeo (10), Cruz (8) en Harper (2) – sê sy stel nie juis meer in glansryke aande uit belang nie en verkies om saans by die huis te ontspan. Die 39-jarige voormalige Spice Girl sê in die September-uitgawe van die Australiese tydskrif Vogue: “Eerlikwaar, wanneer die kinders in die bed is, sal ek eerder werk of ’n gesigmasker aansit en my wenkbroue pluk.

“Wanneer Brooklyn eindelik in die bed is, is dit al waarvoor ek kans sien. Regtig, ons is baie meer normaal as wat mense dink.”

Victoria is bly haar man, die sokkerster David Beckham (38), het nou uitgetree en dat hulle meer tyd saam by die huis kan deurbring.

Sy het gesê: “Ons is almal so trots op David. Ons is regtig nou net opgewonde oor die vooruitsig om meer tyd as ’n gesin saam deur te bring nadat ons hom die afgelope 15 jaar by klubs wêreldwyd ondersteun en gesien het hoe hy nie net vir my en ons kinders ’n inspirasie was nie, maar ook vir miljoene ander mense.”

Die aantreklike donkerkop het voorheen erken sy vind dit moeilik om haar sukses vol te behou en dit met haar gesinslewe te balanseer.

Sy het gesê: “Wanneer jy suksesvol is, is die moeilikste ding om daardie vlak van sukses te behou, dus werk jy harder om dit wat jy bereik het te behou.

“ ’n Mens moet baie balle in die lug hou as jy ’n werkende ma is en jou gesin moet versorg, miljoene en miljoene vroue wêreldwyrd doen dit elke dag.

“Maar dis nie maklik nie en ja, jy voel skuldig elke keer dat jy by die deur uitstap om te gaan werk.”