BBC News berig ’n besoeker het Ralph Heimans se amptelike portret van die monarg, wat sedert Mei in die Chapter House-deel van die geskiedkundige Westminster Abbey in Londen hang, met ’n kannetjie spuitverf bygekom.

’n Westminster Abbey-woordvoerder het bevestig die portret sal eers weer uitgestal word wanneer die skade daaraan herstel is.

Die portret is spesiaal aangevra ter herdenking van die koningin se diamant-jubileum en is die enigste portret van haar wat in 2012, die jaar van haar diamant-jubileum, gemaak is. Die Australies-gebore kunstenaar het dit in Maart verlede jaar voltooi.

Die kunswerk, genaamd The Coronation Theatre, Westminster Abbey: A Portrait of Her Majesty Queen Elizabeth II, is voorheen in Canberra uitgestal. Meer as 100 000 mense het dit reeds gaan besigtig vandat dit Londen toe geskuif het.