Die vrou van die man wat die Porsche Carrera GT bestuur het waarin die Fast and Furious-akteur Paul Walker verongeluk het, dagvaar die motorvervaardiger oor gebrekkige voertuigontwerp.

Kristine Rodas, die vrou van Paul se vriend en sakevennoot Roger Rodas, het Maandag in Los Angeles ’n klag van onregmatige dood en nalatigheid aanhangig gemaak.

In die saak teen Porsche Motors Noord-Amerika beweer sy die motoronderneming se 2005 Porsche Carrera GT het ontwerpfoute en ’n wanfunksionerende veringstelsel gehad wat die noodlottige ongeluk in November veroorsaak het.

Die owerhede het bevind onveilige spoed het tot die ongeluk bygedra, maar Kristine voer aan haar man het voor die ongeluk teen 88,5 km/h bestuur.

’n E-pos waarin Porsche om kommentaar gevra word, is nie dadelik beantwoord nie.

- Sapa-AP

Wat jy moet weet van die Porsche waarin Paul Walker gesterf het