Porsche-base weier om enige verantwoordelikheid te aanvaar vir die botsing in Santa Clarita, Kalifornië, waarin Paul Walker omgekom het en voer aan die akteur was deels verantwoordelik vir sy eie dood.

Op 30 November 2013 was die ster van The Fast and the Furious die passasier in ’n 2005 Porsche Carrera GT. Sy vriend Roger Rodas het bestuur. Die voertuig het ’n lamppaal getref en aan die brand geslaan. Albei mans is dood.

Paul se dogter, die 16-jarige Meadow Walker, het in September vanjaar ’n klag van onregmatige dood teen die vervaardigers van die luuksemotor gelê waarin sy hulle van nalatigheid beskuldig. In hofdokumente voer sy aan ontwerpfoute het veroorsaak dat haar pa in die sportmotor vasgekeer is toe dit begin brand het.

Op daardie tydstip het Porsche se base die bewerings ontken in ’n verklaring wat lui: “Soos ons vantevore gesê het, ons is baie hartseer wanneer enigiemand seerkry in ’n Porsche-voertuig, maar ons glo die owerhede se verslae bevestig in hierdie geval duidelik hierdie tragiese botsing was die gevolg van roekelose bestuur en uitermatige hoë spoed.”

Nou het hulle amptelik gereageer op Meadow se regsaksie deur die aantygings te weerlê in hofdokumente waarin hulle verklaar die motorfanatikus Paul “was ’n kundige en gesofistikeerde gebruiker van die 2005 Carrera GT”.

Hulle verwerp voorts kritiek oor die motor se ontwerp deur te beweer dis “misbruik en verander” en “onbehoorlik onderhou”. Hulle onthul ook daar kan “vergelykbare foute” wees wat aandui dat Paul gedeeltelik verantwoordelik was vir sy eie dood, berig TMZ.com.

Nadat Roger se weduwee, Kristine, verlede jaar ’n soortgelyke klag van onregmatige dood gelê het teen Porsche se Noord-Amerikaanse base, het bestuurshoofde volgehou die ongeluk is deur Roger se toedoen veroorsaak.

Owerhede wat die botsing ondersoek het, het bevind spoed was die hoofoorsaak van die botsing; beamptes vermoed Roger het ten tyde van die botsing tussen 130 km/h en 150 km/h gery.

Lykskouers het alkohol en dwelms as bydraende faktore uitgesluit, terwyl beamptes ook uitgewys het dat daar geen tekens van tegniese probleme met die motor was nie.

© Cover Media