Kobus en Louisa Koekemoer, wat van die moord op die driejarige Poppie van der Merwe aangekla word, sal laat in Maart weer in die hof verskyn.

poppie-main

Die egpaar het Dinsdag in die Brits-landdroshof voorgekom. Tydens die hofsitting het Adrian Nell, Poppie se ma se prokureur, gesê hy sal met dié verskyning aansoek doen dat die saak van die rol geskrap word as die akte van beskuldiging steeds nie gereed is nie.

Dit beteken die Koekemoer-egpaar kan moontlik vrygelaat word.

Met hul hofverskyning Dinsdag was dit die eerste keer in vier weke dat die Koekemoers mekaar sien, het Netwerk24 berig.

Volgens adv. Hanna Conradie, die staatsaanklaer, is die saak verlede maand tot vandag uitgestel vir verdere ondersoekwerk en die akte van beskuldiging. Daarin moet uiteengesit word waarvoor die beskuldigdes in die hooggeregshof verhoor sal word.

Hoewel die dossier op 6 Februarie na die direkteur van openbare vervolging gestuur is, is die akte steeds nie ontvang nie.

Poppie is op 25 Oktober weens beweerde mishandeling oorlede.