Louisa Koekemoer, ma van die vermoorde driejarige kleuter Poppie van der Merwe, wil voor Kersfees nog probeer om ’n dringende aansoek in die hooggeregshof te bring om teen haar mislukte borgtogaansoek in die Brits-landdroshof te appelleer.

Adrian Nell, wat Louisa (45) Maandag in die hof verteenwoordig het toe haar aansoek om borgtog geweier is, het aan Huisgenoot gesê hy het reeds die hofrekord aangevra om ’n dringende aansoek in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria te bring om vir Louisa borgtog te bekom. “Haar bejaarde ma sit nou alleen op die plaas, sonder enigiemand om vir haar te sorg. “Louisa slaap in ’n oorbevolkte sel in die gevangenis op Brits, terwyl die verhoor na verwagting eers einde volgende jaar sal begin,” sê hy. Die verdediging het Maandag aangevoer Louisa se ma, Susan Bothma (69), is sieklik en werkloos, maar die staat het aangevoer Louisa het nie en ’n vaste werk of adres nie en is ’n vlugrisiko.

“Die howe het reeds gesluit, so dit gaan ’n dringende aansoek moet wees. Dit neem gewoonlik 24 uur om die rekord te bekom en dat dit getik word,” sê Adrian. Louisa is Donderdag nes Kobus Koekemoer (43), haar man en Poppie se stiefpa, op ’n klag van moord in hegtenis geneem.
Die egpaar gee mekaar die skuld vir Poppie se dood. Sy is op Dinsdag 25 Oktober oorlede op ’n plaas naby Mamogaleskraal buite Brits, waar die gesin gewoon het. Poppie, wat ook ’n boetie het, is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar en Kobus is dieselfde aand aangekeer. Hy is reeds op 28 November borgtog geweier en verskyn eers weer op 25 Januarie in die hof.
Die hof het gehoor die amptelike oorsaak van Poppie se dood was kopbeserings wat deur ’n stomp voorwerp toegedien is. Sers. Gift Matome, die ondersoekbeampte, het in sy getuienis gesê die meisie het voor haar dood verskeie beserings oor haar hele lyf opgedoen, maar Louisa het dit nooit aangemeld nie.

Sy het ook verskeie weergawes gehad van wat daardie dag gebeur het. Gift het gesê net Louisa en Kobus weet wat regtig daardie dag gebeur het.

Landdros Jethro Mosime het in sy borgtoguitspraak gesê al is geen bewyse nog ter tafel gelê dat Louisa regstreeks by die voorval betrokke was nie, dit blyk sy moes voor daardie tragiese dag geweet het die kind word mishandel.

Volgens Adrian is daar ’n groot kans dat Louisa nie aan moord skuldig bevind sal word nie, maar hoogstens eerder van nalatigheid.

“Die Nasionale Vervolgingsgesag het wel reeds aangedui sy gaan op ’n klag van moord teregstaan.”