Louisa (45), die ma van oorlede Poppie van der Merwe, is in ’n skokwending vir die dood van haar driejarige kind in hegtenis geneem. Haar tweede man, Kobus Koekemoer (43), is reeds vroeër vanjaar op 25 Oktober dieselfde aanklag in hegtenis geneem.

Louisa was Donderdag besig om inkopies te doen toe Huisgenoot haar bel. In daardie stadium het die polisie haar “dringend” versoek om na die polisiekantoor te kom, maar sy het dit nie gedoen nie. Sy was duidelik onbewus daarvan dat sy binnekort in hegtenis geneem sou word.

“Ek trek baie swaar,” het sy aan Huisgenoot vertel. “Hulle het Sondagnag ingebreek en alles gesteel.”

Sy het vertel iemand het die motorhuis se slotte oopgbereek en ook in by haar voertuig ingebreek.

Haar GPS, radio en Kobus se kraggereedskap is gesteel.

“Alles gaan net verkeerd,” het sy gesê.

Lees ook: Poppie se ma glo ontvoer, gedreig en aangerand

hgpoppie

Sy is wel na haar inkopietog deur die polisie na haar huis gevolg waar sy, Kobus en haar kinders, Poppie (3) en dié se ouer boetie (5) op ’n plaas naby Mamogaleskraal buite Brits bly. Sy is by die huis in hegtenis geneem op ’n aanklag van moord.

Poppie is op Dinsdag 25 Oktober op ’n plaas naby Mamogaleskraal buite Brits dood. Die kleuter is na bewering doodgeskop en het erge kopbeserings en merke oor haar lyf heen opgedoen.

Die egpaar is met haar hospitaal toe, maar sy is met haar aankoms dood verklaar. Hospitaalpersoneel het die polisie ontbied en Kobus is daar in hegtenis geneem.

Lt.kol. Pelonomi Makau, provinsiale polisiewoordvoerder in Noordwes, het Donderdag die arrestasie aan Huisgenoot, wat haar arrestasie onthul het, bevestig.

Lees ook: ‘My Poppie is veilig by Jesus,’ sê vermoorde blouoog-kleuter se pa

Louisa sal die naweek agter tralies deurbring. Sy sal na verwagting Maandag in die hof op ’n aanklag van moord verskyn. Kobus verskyn eers weer op 25 Januarie 2017.

In die stadium gaan sy as medepligtige aan moord saam met Kobus, met wie sy in November 2015 getroud is, aangekla word.

[caption id="attachment_150849" align="aligncenter" width="600"]Louisa en Kobus op hul troudag. Louisa en Kobus op hul troudag.[/caption]