Christo van der Merwe (38) het Maandag die borgtogaansoek van sy eksvrou, Louisa Koekemoer, in die Brits-landdroshof bygewoon.

Louisa is saam met haar tweede man, Kobus Koekemoer (45), van die moord op Poppie aangekla en is Maandag borgtog geweier.

Volgens Jacobus Ludick, ’n aktivis van die Geregtigheid vir Poppie-groep, was Christo, Poppie se biologiese pa, ná die verrigtinge te emosioneel om die media toe te spreek.

[caption id="attachment_151362" align="aligncenter" width="600"]Poppie se pa, Christo van der Merwe, was by tye oorweldig deur emosie. Foto: Jacobus Ludick. Poppie se pa, Christo van der Merwe, was by tye oorweldig deur emosie. Foto: Jacobus Ludick.[/caption]

Christo het by monde van Michélle Naudé Tönsing (’n vriendin ook een van die aktiviste) in ’n verklaring gesê: “Nou kan die genesingsproses vir my en my ouers begin – met albei (Louisa en Kobus) wat agter tralies is.

"Baie dankie aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir hul ondersoek en goeie werk tot dusver. Baie dankie dat Louisa ook vasgetrek is.”

Christo sê hy het van die begin af geglo Louisa het nes haar man ’n aandeel in Poppie se dood gehad.

“Louisa moes haar kinders beskerm het; dit is wat enige ma sou doen,” meen hy.

Christo is baie emosioneel sedert die afsterwe van sy blondekopdogter, wie se dood mense oor die land heen aangegryp het.

Lees ook: ‘Ek glo die Here sal ons help,’ sê ’n gebroke Poppie se pa

Vroeër vandag tydens die hofverrigtinge het hy Louisa toegesnou met "Die wiel draai"

Hy het sy verklaring geëindig met: “God slaap nie. Die waarheid kom altyd uit.”

Poppie is op 25 Oktober in die Koekemoers se huurhuis op ’n plaas naby Brits dood.

Landdros Jethro Mosime het in sy borgtoguitspraak gesê al is daar geen bewyse nog ter tafel gelê dat Louisa regstreeks daarby betrokke was nie, dit blyk sy moes voor daardie tragiese dag geweet het die kind word mishandel.