“Jy gaan vrek!” So het ’n hofganger Donderdag in die volgepakte landdroshof geskree op die vermeende moordenaar van die driejarige kleuter Poppie van der Merwe.

Kobus Koekemoer (43), Poppie se stiefpa, het in ’n kortmou-blokkieshemp en langbroek vlugtig voor landdros Moses Mswanganyi verskyn. Hy het deur middel van ’n Afrikaanse tolk twee weke uitstel gevra sodat hy ’n prokureur kan aanstel. Die hof het gelas sy aansoek om borgtog sal nou eers op 17 November hier voortgaan.
Talle woedende betogers het voor en ná die verrigtinge in die straat buite die hof opgeruk om hul steun vir geregtigheid vir die jong slagoffertjie te toon. Klein Poppie het na bewering verlede Woensdag wreed aan die hand van Kobus gesterf. Die gemeenskap het ook saamgestaan om borgtog vir Kobus teen te staan.
“Ek staan vandag op vir al die Poppies in hierdie land,” het Nana Swart (67) van Hartbeespoortdam buite die hof aan Huisgenoot gesê. “Ek vra dat dringend gekyk word na swaarder vonnisse vir geweldenaars teen vroue en kinders.” Die betogers by die hof het pienk gedra en pienk ballonne die lug ingestuur ter nagedagtenis van Poppie.
Kobus het Poppie na bewering so aangerand op ’n plaas naby Mamogaleskraal buite Brits dat sy met haar aankoms die aand by die plaaslike hospitaal aan haar beserings beswyk het.
Die kleuter het op die hoewe saam met haar stiefpa, haar ma en ouer halfboetie gewoon. Die sesjarige boetie is intussen in veilige bewaring geplaas en sy 15-jarige halfsuster is by haar biologiese pa. Lt.kol. Pelonomi Makau, provinsiale polisiewoordvoerder in Noordwes, het vroeër bevestig Kobus is nog die aand van Poppie se dood by die hospitaal aangekeer en staan tereg op ’n klag van moord. Hoewel die lykskouingsverslag met die aard van Poppie se beserings nog nie bekend is nie, het die polisie bevestig sy het beserings aan haar hele lyfie opgedoen. Sy is vermoedelik geskop en geslaan. Haar begrafnis vind Vrydag vanuit die Hervormde kerk op Westonaria plaas.

Christo van der Merwe, Poppie se gebroke biologiese pa wat op Westonaria woon, het vroeër aan Huisgenoot gesê hy is stukkend en sukkel om sy kind se dood te verwerk. Hy het sedert sy blonde dogtertjie se dood nog nie ’n goeie nagrus gehad nie en is baie emosioneel.

“Ek troos my daaraan dat my Poppie veilig by Jesus is. Ek was so geseënd gewees . . .” het hy huilend gesê. Hy het vertel hy het sy dogtertjie met die jare bitter selde gesien.

Die meisie se dood het mense landwyd geruk nadat die Facebook-groep Truth and Justice Continue inligting oor die voorval geplaas en foto’s van Poppie, Kobus en Louisa daarna wyd versprei is.