So vergesog soos dit klink is dit ’n gereelde verskynsel in Thailand, waar ál meer mense lewensgetroue babapoppe saam met hulle ronddra, glo omdat dié poppe goeie geluk bring. Lees ook: Lawwe verskonings om van die werk af weg te bly

“Die eerste dag dat ek hom gekry het, het ek vir hom klere in die winkels se baba-afdeling gaan koop,” het die Thaise platejoggie DJ Bookkoh Thannatchayapan aan Coconuts Bangkok gesê. Lees ook: Kalkoen kry vlerke en vlieg “Net nadat ek vir sy klere betaal het, het ek ’n oproep gekry dat ek my werk, wat ek verloor het, terug het,” het hy getuig van sy gelukbringer. Die poppe staan bekend as Look Thep oftewel Child's Angels en kos tussen 2,000 baht en 20,000 baht (sowat R920 tot R9 160).
Hul eienaars voer ’n spesiale seremonie met die poppe uit waarmee engele glo die poppe betree. Daarna word die poppe opgepas asof hulle mense is – hulle word gevoer, aangetrek, mee gesels en versorg nes ’n baba. Die siel van ’n afgestorwe baba word glo genooi om die pop te kom bewoon en voorsien die eienaar van geluk, rykdom en voorspoed. Een van Thailand se lugrederye moes selfs nuwe maatreëls uitreik oor hoe dié poppe op vlugte gehanteer moet word. Jy kan nou ’n sitplek vir jou pop koop en personeel aan boord sal jou pop nes ’n mens hanteer. Hulle sal selfs gevra word om hul sitplekgordel vas te maak!

Meer as 40 passasiers het glo reeds met poppe opgedaag en ’n restaurant in Bangkok, Neta Grill, het selfs ’n spesiale aanbieding met maaltye vir die poppe.

“Ons is oop vir alle gelowe en bedien graag Luk Thep teen kinderpryse, mits al die kos wel geëet word,” het die restaurant se Facebook-inskrywing gelui.

Tog het die poppe ook al tot onmin gelei en het die owerheid streng opdrag aan lugrederye gegee om die poppe deeglik te deursoek ingeval dwelms binne-in hulle versteek word.

Die land se eerste minister het ook in ’n onlangse praatjie inwoners gewaarsku om nie spandabel te wees en die poppe te koop as hulle dit nie kan bekostig nie.

BRONNE: businessinsider.com, thesun.co.uk