[caption id="attachment_162391" align="alignnone" width="600"]Sue en Tony Damas is Donderdagaand wreed aangeval. Foto: VerskafJeanette en Tony Densem is Donderdagaand wreed aangeval. Foto: Verskaf[/caption]

Hulle sal na verwagting Dinsdagmiddag weer die lang pad na Zimbabwe aandurf nadat hul eerste poging om na SA te immigreer misluk het.

“Ons wil regtig nie teruggaan huis toe nie, maar ons moet. Ons moet polisieklaring vir die paspoort-aansoek gaan kry. My twee lieflinghonde is ook nog daar,” het Sue telefonies aan Huisgenoot gesê.

Volgens haar het die aanval vier dae gelede by ’n vulstasie in Polokwane hulle nie skrikkerig vir Suid-Afrika gemaak nie.

Sy het ook meer vertel oor wat daardie traumatiese oggend gebeur het tydens hul sogenaamde taxi-saamrygeleentheid.

“Mamie, mamie, dit gaan oukei wees,” het die verdagte in die passasiersitplek glo gesê terwyl hy heeltyd aan haar been bly vat het.

“Ek het vreeslik ongemaklik gevoel en aangedring dat hulle by die volgende vulstasie moet stilhou,” sê Sue.

Tony moes sy venster oopmaak en die motordeur van buite af oopmaak omdat die verdagtes geweier het om hulle te laat gaan.

“Ons het hulle R210 vir die nagmerrierit betaal en toe steel hulle nog ’n verdere R6 330 by my.” Dit was die ma en seun se laaste geld.

Sy sê behalwe dat sy weens haar beserings snags sukkel om te slaap, spook Donderdag (2 Maart) se aanval nog by haar. “Ek kry nagmerries, maar in my nagmerries gebeur alles stadig. Ons baklei vir ons lewe en dan hardloop hulle met al ons geld weg. Ek droom dit oor en oor.”

Dit het die ma en seun sowat agt maande geneem om die geld bymekaar te skraap om Suid-Afrika toe te kom.

Die gemeenskap in Polokwane en die gastehuis waar hulle intussen tuis gegaan het, het hulle oor die Densems ontferm en gehelp met klere, kos en selfs selfoon-lugtyd.

“Dit is ongelooflik hoeveel werkgeleenthede Tony al aangebied is, maar ons kan dit nie op die oomblik aanvaar nie omdat hy nie ’n werkspermit het nie. Hy wil bitter graag in Suid-Afrika werk en woon, maar ons wil dit op die regte en wettige manier doen”.