Simon Parkes, ’n dorpsraadslid in Whitby, Engeland, sê sy huweliksbootjie het gesink nadat hy ’n liefdeskind, Zarka, verwek het by die Cat Queen, soos hy die ruimtewese noem.

“Ons het hande vasgehou en dan het ek gesê ek is gereed. Dan het tegnologie wat ek nie verstaan nie ons opgeneem na ’n vaartuig wat om die aarde wentel,” het Simon aan die koerant Northern Echo gesê.

“My vrou het daarvan uitgevind en was duidelik baie ongelukkig daaroor. Dit het probleme veroorsaak, maar dis nie op ’n menslike vlak nie; daarom dink ek nie dis verkeerd nie.”

Die bestuursinstrukteur, wat drie mensekinders het, hou vol sy “regte ma” is ’n ruimtewese van sowat 2,7 m lank. Sy het agt stokkiesagtige vingers en het voor hom gestaan toe hy net ses maande oud was.

Hy het op die Channel 4-dokumentêr Confessions Of An Alien Abductee verduidelik: “Ek het gedink: Dis nie mamma se hande nie, mamma se hande is pienk en sy het duime. Hierdie is groen en gepunt en daar is vier vingers.

“Ek het reguit in die ding se gesig gekyk. Dit dring my verstand deur my oë binne en stuur ’n boodskap van my oogsenuwee na my brein en sê: ‘Ek is jou regte ma, ek is jou belangriker ma.’ ”