“Die president het mnr. Manana vir sy bydrae tot die regeringswerk gedurende sy termyn (in die amp) bedank,” het die presidensie in ’n kort verklaring gesê.

Manana het onlangs erken hy het twee vroue by die Cubana-nagklub in Fourways in Johannesburg aangerand.  

Hy het Donderdag in die Randburgse landdroshof verskyn en is met R5 000 borgtog vrygelaat. Hy staar twee klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die gesig.

In ’n selfoonopname van Manana wat met een van die slagoffers se broer praat sê hy, hy het die vrou geklap omdat sy hom gay genoem het. 

Manana het beweer hy is “baie uitgelok”.

Hy sal ook dissiplinêr deur die ANC ondersoek word. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het die besluit geneem om hom aan die party se dissiplinêre prosesse onderworpe te hou, het die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, Dinsdag gesê.

“Hy dien in geen struktuur as ’n leier nie, en daarom is die enigste stappe wat gedoen word om hom aan ’n dissiplinêre proses onderworpe te hou.”

Hy kan geskors of uit die party verban word indien hy skuldig bevind word.

Die ANC het intussen sy bedanking verwelkom. 

In ’n verklaring het ANC-woordvoerder Zizi Kodwa Manana vir sy “diens aan Suid-Afrikaners tydens sy ampstermyn”. 

Bron: News24