[caption id="attachment_145686" align="alignnone" width="600"]Kapt. Riana Vivier is tweede van links. Foto: Facebook Kapt. Riana Vivier is tweede van links. Foto: Facebook[/caption]

Kapt. Riana Viviers (47), opleidingsbeampte by die polisieakademie op Oudtshoorn, het die naweek in die hospitaal deurgebring aangesien sy sukkel om die voorval te verwerk, het Renate Barnard van die vakbond Solidariteit by navraag aan Huisgenoot gesê.

Sy vertel Riana is nog baie emosioneel en is deur ’n dokter tot kort voor Kersfees afgeboek.

“Sy vertel sy het in haar byna 30 jaar in die polisie nog nooit so iets beleef nie,” sê Renate oor die voorval op Maandag 7 November.

Rapport het Sondag berig die generaal, wat in Pretoria gebaseer is, het tydens ’n besoek aan die akademie al die opleidingsbeamptes in burgerdrag op die verhoog laat staan en voor sowat 450 rekrute en kollegas aanmerkings oor hul klere gemaak. Die generaal se identiteit is aan Huisgenoot bekend, maar publiseer dit op grond van regsadvies nie.

Aan Viviers het sy glo gesê dat haar gewig ’n probleem is. Sy wou ook van Viviers weet waar dit in die dragkode sê dat haar broek ’n toutjie mag hê. “Gaan maak jouself reg,” het sy glo gesê. Die rekrute het glo hande geklap en gelag. Riana is van mening dat dié voorval haar gesag oor die rekrute ondermyn.

Renate het aan Huisgenoot gesê die “gejil en gelag” was vir Riana die ergste en sy voel dat haar reg op eer en waardigheid en op gelykheid ernstig deur die voorval geskaad is.

Renate sê daar is reeds 14 mense wat in beëdigde verklarings Riana se weergawe van die gebeure staaf. Solidariteit is tans besig om ’n formele interne grief namens die lede op te stel sodat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die saak intern kan ondersoek.

As oudpolisievrou wat self in die verlede weens bevorderingskwessie ’n stel met die polisie afgetrap het, meld sy dat daar spesifieke beleide en riglyne in die polisiediens ingestel is om alle beamptes teen diskriminasie te beskerm.

Sy sê die vakbond sal beslis die saak in die hof aanvoer as die SAPD nie sy eie beleid en voorskrifte soos vervat in die Wet op Billike Indiensneming – spesifiek gesien in die lig van Artikel 60(1),(2) en (3) – nakom nie.

Die SAPD se interne beleid vereis dat ’n onafhanklike dissiplinêre ondersoek gelas word en dat die nodige stappe teen die oortreder ingestel moet word as die getuienis op wangedrag dui.

Die vakbond beplan ook om teen 21 November ’n klag van diskriminasie op grond van ras by die Menseregtekommissie (MRK) aanhangig te maak.

Brig. Mashadi Selepe, woordvoerder van die nasionale polisiekommissaris het Huisgenoot se navraag oor die generaal in ontvangs geneem en daarop gereageer: “Lede van die polisiediens is by magte om enige tyd interne prosesse aan die gang te sit om bewerings van dié aard te hanteer.

Die bewerings word as ernstig beskou en is skadelik vir die reputasie van die senior bestuurder, die lede betrokke en die SAPD.

Die bewerings sal hanteer word sodra ’n geloofwaardige verslag en verklarings van al die lede betrokke ontvang is. Sulke bewerings sal intern en volgens die polisie se riglyne hanteer word en nie deur die media nie.