Ao. Sascha Naidoo (45) was verbonde aan die Newcastle K9-eenheid. Volgens kapt. Nqobile Gwala het hy saam met ’n ander polisiebeampte gereageer op ’n voorval in Madadeni.

Die betrokke vrou is na bewering herhaaldelik aangerand, maar dis onduidelik of sy ook met ’n spies aangeval is.

“Daar word beweer dat die verdagte Naidoo met die spies gesteek het toe dié hom nader. Hy het ernstige beserings opgedoen,” het Gwala gesê.


Naidoo is inderhaas na die naaste hospitaal geneem. Luidens berigte het die spies 'n hoofslagaar in sy been getref. Die been is glo geamputeer. Naidoo het egter steeds beswyk.

“Die 59-jarige aanvaller is oorweldig en onmiddellik in hegtenis geneem,” het Gwala gesê.

KwaZulu-Natal se waarnemende polisiekommissaris, maj.genl. Bheki Langa, het sy skok oor die voorval uitgespreek. Hy het Naidoo geloof vir sy dapper optrede.